Linda Ciotto (62) is van naby in die gesig geskiet. Sy het ook ernstige wonde aan haar linkerarm en hand wat lyk of dit deur ’n lem van die grassnyer veroorsaak is. Die voorval het verlede Dinsdag in Willard, Ohio, plaasgevind. James Blair (50) is Woensdagoggend vroeg in hegtenis geneem nadat die polisie ses uur lank gesukkel het om hom uit die huis te kry waar hy en sy ma woon en toe eindelik traangas moes afvuur. Hy word nou van moord aangekla. Sy 73-jarige ma word ook sedert Donderdag aangehou. Volgens die polisie het sy herhaaldelik ondersoekbeamptes mislei oor waar die vuurwapen was wat in die voorval gebruik is. Dis Donderdag in ’n sak in haar besit gevind. Sy is nog nie aangekla nie. Linda is omstreeks 21:00 geskiet nadat James vies geraak het omdat sy haar grasperk so laat sny. Die polisie het sowat twee uur ná die skietery ’n oproep ontvang.