Chris Brown het hom in ’n rehabilitasiesentrum laat opneem – net ’n dag nadat hy vrygelaat is uit ’n tronk in Washington DC.

Die R&B-ster, wat berug is weens sy verskriklike humeur, is die naweek in hegtenis geneem omdat hy na bewering ’n ou se neus gebreek het nadat die man ’n foto saam met hom probeer neem het.

Volgens Chris se prokureur, Mark Geragos, het Chris hom in ’n onbekende sentrum laat opneem om vir woedeprobleme behandel te word. “Hy het net besluit hy wil ’n blaaskans neem en ’n bietjie selfondersoek doen.”

Die 24-jarige Grammy-wenner moet juis in sy spoor trap, want hy is nog op ’n proeftydperk nadat hy sy destydse meisie Rihanna in 2009 aangerand het. Hy het al klaar vroeër vanjaar sy proefvoorwaardes verbreek toe hy in ’n tref-en-trap-ongeluk betrokke was. As ’n regter besluit om sy proeftydperk te herroep, kan tot vier jaar tronkstraf hom in die gesig staar.

Bekendes met woedeprobleme

& 50 Cent (38) is ’n proeftydperk van drie jaar en 30 dae gemeenskapsdiens opgelê vir ’n voorval van huishoudelike geweld. Die rapper het sy eksmeisie Daphne Joy se woonsteldeur oopgeskop en haar geskop.

& Die rapper Kanye West (36) is in Julie in hegtenis geneem omdat hy ’n paparazzo buite die lughawe in Los Angeles aangerand en beseer het.

& In 2011 het die Lost-ster Matthew Fox (47) na bewering in ’n bakleiery met ’n busbestuurder betrokke geraak nadat sy geweier het dat hy op die bus klim. Die bestuurder het terugbaklei en die akteur is in hegtenis geneem.

& Charlie Sheen (48) is in 2009 in hegtenis geneem omdat hy sy destydse meisie Brooke Mueller (36) aangerand het. Maande later het hy ’n hotelkamer verniel en die pornoster Capri Anderson (25) gedreig nadat hy nie sy beursie of foon kon kry nie. Hy het daarna ’n hoofrol in die semi-outobiografiese sitkom, Anger Management, begin vertolk.

& In 2008 is die ster van The Dark Knight, Christian Bale (39), in hegtenis geneem omdat hy na bewering sy ma en suster in hul hotelkamer in Londen te lyf gegaan het. Die akteur het ook in 2009 op die stel van Terminator 3 ’n vloermoer gegooi en op ’n kinematograaf gevloek wat per ongeluk tydens verfilming voor hom ingestap het.

& In 2010 is die Britse komediant Russell Brand (38) aangekeer nadat hy na bewering paparazzi buite die hotel in Los Angeles aangeval en een van hulle beseer het.