Nicola Davis het die foto van haar vriendin, ’n kelnerin, op Facebook gedeel. Sy werk by een van die Joey-restaurante in Alberta, Kanada.

In die foto se byskrif verduidelik sy dis steeds die restaurant se beleid dat “vroulike personeel hoëhakskoene moet dra tensy dit weens mediese redes nie moontlik is nie”.

“My vriendin se voete het gebloei tot sy selfs toonnaels verloor het en die skofbestuurder het haar steeds ontmoedig en uitgetrap toe sy plat skoene aantrek (daar is spesifiek aan haar gesê hoëhakskoene is ’n moet wanneer sy die volgende dag inval vir haar skof),” skryf sy.

Die kelnerin het in ’n onderhoud met CBC News gesê sy het haar bestuurder genader toe haar voete op die eerste dag van opleiding seer was. In antwoord daarop het die bestuurder gesê sy moet belê in beter hoëhakskoene, wat sy toe gedoen het.

Maar teen die einde van haar tweede opleidingskof kon sy nie meer staan nie. “My voete het gebloei en was geswel. Ek het ’n paar toonnaels verloor. Ek was in trane,” sê sy.

Lees ook: Tiener vermink sy eie liggaam ter wille van ‘sy kuns’

“Ek dra gedurig hoëhakskoene, so dis nie asof ek dit nie kan doen nie. Maar om etlike ure lank sulke skoene te dra, is net onmoontlik,” het die kelnerin, wat intussen die werk gelos het, gesê. “Dis seksisties en onveilig.”

Nicole skryf verder op Facebook: “Boonop moet die vroulike personeel ’n uniform of rok teen R449 aanskaf, terwyl die manlike personeel swart klere uit hul kas mag aantrek (en daar word nie van hulle verwag om hoëhakskoene te dra nie).”

“Ek het baie vriende in die dienstebedryf en ken baie vroue wat goeie fooitjies kry sonder dat hulle hul gemak moet inboet terwyl hulle werk.” Die eksplisiete foto’s is al meer as 11 500 keer gedeel en het al meer as 2 000 reaksies ontlok sedert dit verlede week gedeel is.

“Dis nogal oorweldigend – dankie aan al die wonderlike mense wat my inskrywing gedeel het. Hopelik sien ons positiewe verandering en regverdige arbeidspraktyke vir mense in die dienstebedryf.”

Joey het in reaksie gesê dat werknemers ingevolge hul beleid “kies wat vir hulle gemaklik is. Daar is nie ’n minimum hoogte as dit kom by ons skoenbeleid nie,” het Sasha Perrin, ’n kommunikasiebestuurder vir Joey, gesê.

“Skoene wissel van swart, deftige plat skoene, wighakke en hoëhakskoene. Vir die werknemers wat hoëhakskoene dra, vereis ons dat die hakhoogte nie hoër as 6,3 cm is nie.” Die voorval is die jongste in ’n string bewerings oor sommige restaurante se “totaal walglike” kleredragkode.

Lees ook: Ontstoke trougas ontvang e-pos van pasgetroudes oor kontantgeskenk kwansuis ‘te min’ was

Nicola Thorp (27), ’n ontvangdame, is glo afgedank omdat sy nie hoëhakskoene gedra het nie. Sy het haar tydelike werk verloor toe sy by PwC se kantore in die middestad van Londen in plat skoene en sonder grimering opdaag.

“Ek het my verwarring uitgespreek oor hoekom (ek weggewys is) en hulle het gesê plat skoene is nie deel van hul kleredragkode vir vroue nie,” sê Nicole, wat haar nou daarvoor beywer dat dit onwettig moet wees om vroue te dwing om hoëhakskoene en grimering werk toe te dra.

“Die toesighouer het vir my gesê ek sou sonder betaling weggewys word as ek nie winkel toe gaan en ’n paar skoene met hakke van 5 tot 10 cm gaan koop nie. Ek het geweier en is huis toe gestuur.”

Bronne: cbc.ca, metro.co.uk, facebook.com

Ander stories op Huisgenoot.com

Vlieënier sterf en passasier oorleef in derde vliegongeluk in twee dae

Wellington treur ná skokdood van geliefde inwoner Winnie Rust

‘Dapper’ sewejarige kap kop oop nadat hy uit bewegende trein gesuig word

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?

Kyk: Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag