Navorsers het die drinkgewoontes en leefstyl van 151 000 volwasse mans in die Russiese stede Barnaoel, Biejsk en Tomsk tussen 1999 en 2010 gemonitor. Sowat 8 000 van die mans is in die tyd oorlede en die oorsake van die sterftes was deel van duie navorsing.

Onder mans van 55 of jonger wat drie of meer halfliter bottels wodka per week gedrink het, was die sterfterisiko ’n skokkende 35 persent.

In die algemeen sterf ’n kwart van Russiese mans voor 55, vergeleke met sewe persent in Brittanje en minder as een persent in Amerika. Die gemiddelde lewensverwagting vir mans in Rusland is 64, wat beteken dié land is een van die 50 lande met die swakste lewensverwagting vir mans.

Dis nie duidelik hoeveel Russiese mans drie of meer bottels wodka per week drink nie. Die hoofnavorser, sir Richard Peto van die Universiteit van Oxford, sê die deursnee volwasse Rus drink 20 L wodka per jaar. Die deursnee-Brit drink sowat 3 L sterk drank per jaar.

“Russe drink duidelik baie, maar dis ’n patroon van dronk word op wodka en dan aanhou drink, wat gevaarlik is,” sê Richard.

“Vroeë sterftes onder Russiese mans is baie hoër as elders in Europa,” sê hy. “Daar is ook ’n kultuur van oormatig drink in Finland en Pole, maar hul sterfterisiko is glad nie so hoog soos in Rusland nie.”

Alkohol is al ’n geruime tyd ’n groot oorsaak van sterftes in Rusland. Wodka is gewild omdat dit goedkoop is en op baie dorpies gemaak word.

In vorige navorsing is bevind meer as 40 persent van Russiese mans sterf voor hul aftrede weens alkoholmisbruik. Hulle drink ook alkohol wat nie geskik vir inname is nie, soos in reukwater en ontsmettingsmiddels.

Drankmisbruik maak so ’n groot deel uit van die Russiese kultuur dat daar selfs ’n woord is vir dae lange drinksessies: zapoi.

Volgens Richard kom drankmisbruik ook onder Russiese vroue voor en hul lewensverwagting word ook daardeur aangetas. Daar is net nie genoeg inligting hieroor om tot ’n algemene gevolgtrekking te kom nie.

Die Britse mediese navorsingsraad en nog organisasies het hierdie navorsing gefinansier. Die bevindings van die navorsing is Donderdag op die webtuiste van die vakjoernaal Lancet gepubliseer.

Ander kenners sê die Russiese voorkeur vir sterk drank is besonder gevaarlik. “As jy wodka drink, beland baie meer etanol in jou liggaam as wanneer jy byvoorbeeld bier drink,” sê David Leon, ’n professor in epidemiologie aan die Londense skool vir higiëne en tropiese medisyne. Hy het navorsing gedoen oor die invloed van alkohol op Rusland, maar was nie betrokke by die Lancet-navorsing nie.

Hy sê ingrypende kulturele aanpassings sal in Rusland gedoen moet word voor drinkpatrone daar sal verander.

“Dis aanvaarbaar in Rusland dat jy drink tot jy nie meer kan funksioneer nie; dis wat mans daar doen,” sê David.