Witseerkeel, ’n bakteriële infeksie wat die slymvliese in die keel en neus aantas, het reeds die lewe van ’n 10-jarige seun van die Strand geëis en drie ander kinders besmet, berig EWN.

Prof. Lucille Blumberg, ’n konsultant van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, het aan Business Day bevestig die vier gevalle word as ’n uitbraak beskou. Sy het ook die belangrikheid daarvan beklemtoon om kinders van ’n jong ouderdom af te laat inent. 

“Die boodskap is dat kinders hul versterker-inentings op 18 maande en op skoolgaan-ouderdom moet kry,” het Blumberg aan Business Day gesê en bygevoeg die aangetaste kinders is moontlik nooit ingeënt nie. 

’n Mediese span het nou altesaam 600 kinders in die aangetaste Helderberg-streek ingeënt om te keer dat die siekte versprei.  

Wat is witseerkeel? 

Volgens Healthline.com is witseerkeel ’n ernstige bakteriële infeksie wat die slymvliese van die keel en neus aantas. Gifstowwe sal deur ’n aangetaste mens se bloedstroom vrygestel word, wat ’n swaar, grys stof in die neus, keel en lugweg en op die tong laat vorm.  

Wat is die simptome?

Die simptome van witseerkeel begin verskyn twee tot vyf dae nadat die infeksie opgedoen is, waarsku Healthline.com

Die waarskuwingstekens waarvoor jy op die uitkyk moet wees, is: 

koors
bewing
geswolle kliere in die nek
’n harde hoes
’n seer keel
blouerige vel
kwyling
’n algemene gevoel van ongerustheid of ongemak 

Wie is in gevaar? 

As jy ingeënt is, is jy veilig. Mense wat nie ingeënt is nie, is egter besonder kwesbaar om die siekte op te doen. 

DTaP, die inspuiting wat teen die dodelike infeksie beskerming bied, word tydens die eerste ses jaar van hul lewe deur ’n reeks van vyf enkeldosis inspuitings aan kinders gegee. 

Die ouderdomme is: 

2 maande
4 maande
6 maande
15 tot 18 maande
4 tot 6 jaar

As jy ’n volwassene is en nie as kind die nodige inentings gekry het nie, moet jy ’n kombinasie van ’n witseerkeel- en klem-in-die-kaak-inspuiting kry.

Dit staan as die klem-in-die-kaak-witseerkeel-(Td) entstof bekend.

Bronne: BusinessLive.co.za, Ewn.co.za, Healthline.com