Winnie Madikizela-Mandela het in die hooggeregshof dokumente ingehandig wat Madiba se boedel teenstaan.

00005686

Winnie Madikizela-Mandela (78) beweer haar gewese man, oudpres. Nelson Mandela, het dalk eindomsbedrog gepleeg toe hy ’n erf in Qunu in die Oos-Kaap in sy eie naam registreer, het die City Press Sondag berig.

Sy staan nou die Wet op die Beskikking oor Staatsgrond teen, wat die oudpresident na bewering gebruik het om die eiendom te bekom.

Winnie beweer abaThembu-koning Buyelekhaya Dalindyebo het haar die eiendom gegee toe Madiba in die tronk was en dit behoort regmatig aan haar.

“Die president kan nie die wet vir sy eie persoonlike gewin gebruik nie; om dit toe te laat sou strydig met die bepalings van die wet en die bepalings van die Grondwet vir die Republiek van Suid-Afrika wees,” het sy in hofdokumente gesê.

“Die akte is onreëlmatig verkry, en natuurlik was daar wanvoorstelling of bedrog aangesien die eiendom verkry is deur my en nie mnr. Mandela nie.”

Verlede Dinsdag het Winnie se prokureur Mvuzo Notyesi aan Sapa gesê sy het in die hooggeregshof in Mthatha dokumente ingehandig wat Madiba se boedel teenstaan en die regte op die huis in Qunu aanvra.

Winnie was Madiba se tweede vrou en hulle was 38 jaar lank getroud. Dit het ná sy dood in Desember verlede jaar bekend geword dat sy nie in sy testament genoem is nie.

Sy sê die registrasie van die huis in Madiba se naam is onwettig en moet tersyde gestel word.

- Sapa