Sy het gewag dat haar seun uit die aanhoudingselle gehaal en na die tronk teruggeneem word ná ’n kort verskyning in die landdroshof op Wellington.

’n Ambulans is ontbied nadat Lien Plaatjies geweier het om te loop nadat sy in die binnehof inmekaargesak het. Verhoorafwagtende gevangenes word daarvandaan na die tronk teruggeneem. Nigel (18) en sy oom Johannes Plaatjies word daarvan beskuldig dat hulle die Afrikaanse skrywer Winnie Rust op 11 Mei in haar huis in Derdelaan, Uitsig, vermoor het terwyl haar man op die boonste verdieping geslaap het.
Die polisie meen sy is vermoor tydens ’n inbraak wat skeefgeloop het.

Omstanders het vir die enkelma gebid terwyl sy saggies gehuil en vir haar haar seun bly wag het, al is sy aangeraai om mediese aandag te aanvaar.

“Sy sal nou vir Nigel sien,” het paramedici Lien glo gepaai en haar by die ambulans probeer kry om haar te ondersoek.

Rekords steeds uitstaande Die saak teen haar seun en broer, Johannes, is vroeër vir verdere ondersoek uitgestel. Volgens die staat is forensiese en selfoonrekords steeds uitstaande. Die moordverdagtes is in Junie borgtog geweier toe landdros Alvin Saptoe bevind die staat het ’n sterk prima facie-saak teen die verdagtes. Die twee het ook gekies om nie mondelings tydens die verrigtinge te getuig nie. Ondersoekbeampte Cornelius de Lange het getuig Nigel – vir wie Winnie geldelik ondersteun het sedert hy in gr. 7 was – het ontken hy was by die skrywer se huis op die dag van die moord, tot ’n getuie volgehou het dié het hom gesien. Sy ma was die huiswerker van Winnie se dogter. Winnie het Nigel se skoolgeld en vir sy sportaktiwiteite betaal en die atletiekster het haar gereeld by haar huis besoek.

Cornelius het gesê Nigel het ’n verklaring by die polisie afgelê dat Johannes hom gedwing het om “hom met ’n inbraak te help” en hy moes Winnie besig hou terwyl Johannes waardevolle artikels steel.

Rits veroordelings

Aanklaer Mornay Julius het aan die hof gesê Nigel het in ’n verklaring aan die polisie gesê sy oom het hom gedwing om aan die rooftog deel te neem, want hy het kontant nodig gehad om dwelmlenings af te betaal. As Nigel hom nie gehelp het nie, sou Johannes sy susterskind glo laat vermoor het. Mornay het gesê die staat meen dit is onwaarskynlik dat dit is wat gebeur het. As hulle skuldig bevind word, kan die twee lewenslange tronkstraf opgelê word. Nigel het geen vorige veroordelings nie, maar Johannes is al aan ’n rits misdade skuldig bevind – onder meer huisbraak, agt veroordelings vir diefstal, twee vir aanranding en twee vir dronkbestuur.

Twee skootrekenaars, ringe en ’n handsak is uit die skrywer se huis gesteel. Vingerafdrukke op moordtoneel Winnie se man, dr. Manie Rust (87), het haar lyk gekry toe die klokkie by die hek hom om 15:30 wakker maak. Sy was op die kombuisvloer en het beserings aan haar gesig gehad. Sy is verwurg en haar hande en voete vasgebind.
Nigel is twee dae ná die moord op Winnie in hegtenis geneem. Sy vingerafdrukke is glo op ’n tafel langs die 77-jarige se lyk gekry. Hy het ook na bewering haar bankkaart by ’n OTM gebruik vir drie transaksies ter waarde van R5 000, asook haar kredietkaart vir aankope in die Paarl.

Johannes (34) is die volgende Sondag in hegtenis geneem. Hy het na bewering een van die skootrekenaars verkoop en die ringe by ’n tweedehandshandelaar in Wellington verpand.

Nigel het onskuldig gepleit op aanklagte van roof en moord. Johannes moet nog pleit.

Die saak is tot 19 September uitgestel.

Bron: News24