[caption id="attachment_62418" align="aligncenter" width="600"]Foto: SAPA Foto: SAPA[/caption]

Oudpres. Nelson Mandela se gewese vrou Winnie Madikizela-Mandela het haar stilte oor Madiba se dood verbreek. In ’n eksklusiewe onderhoud met ITN vertel die strydros sy was by Madiba toe hy sy laaste asem uitblaas.

“Ek het die oggend ’n oproep gekry en daar is vir my gesê . . . daar is moeilikheid met Tata,” het sy gesê. “Ek het die dokter gebel en hy het gesê: ‘Nee, Mama, ek dink jy moet liewer self kom.” Hy het nooit vantevore daardie woord gebruik nie. Toe hy so praat, het ek geweet daar is ’n baie groot probleem.”

Sy sê sy het drie en ’n half uur langs sy bed gewaak en gekyk hoe Madiba stadig verswak. “Maar die ergste skok wat ek gekry het, was dat hulle die dialisemasjien afgeskakel het en daar net ’n respirator was wat die hartklop en bloeddruk geregistreer het.

“Toe ek daar kom, was die hartklop sowat 67 en die bloeddruk 55. Ek het gekyk hoe die syfers stadig daal. Dit het na ’n ewigheid gevoel. Dit het aanhou daal.”

Die 77-jarige sê ’n lamheid het haar omvou terwyl dit gebeur het. “Ek het deurentyd besef as mens kon ek my eerlikwaar nie sover kry om te sê ‘dit is tyd’ nie, maar ek het geweet ons het die einde bereik. Jy kry hierdie lam gevoel.

“Jy reageer nie daarop nie. Ek kan daardie soort smart nie beskryf nie. Al was hy 95 en het hy so baie gedoen, was daar so baie wat nog nie gedoen is nie.”