Die Kanadese vrou het verlede Maandag by ’n plaaslike Urban Planet-klerewinkel gewerk toe sy van haar kollega se gekruide neute eet. Sy het nie geweet dit bevat soetrissies nie – iets waarvoor sy uiters allergies is.

Kort daarna het sy besef haar liggaam is besig om in anafilaktiese skok te gaan.

“Ek het van die bestuurders boontoe geroep en een van hulle het met die trappe opgekom en my gevra wat fout is. In daardie stadium was my lugpyp al besig om toe te swel,” het sy op Facebook gedeel.

“Sy het daarna ’n eienaardige houding ingeneem,” het sy geskryf en bygevoeg sy het nie ’n EpiPen (’n mediese toestel waarmee ’n dosis adrenalien ingespuit kan word). by haar gehad nie, want hare het verval en sy moes ’n voorskrif kry vir ’n nuwe pen.

Volgens die winkelassistent het die bestuurder haar aangesê om ’n EpiPen in haar motor te gaan soek “en toe het sy weggestap”.

“Ek het intussen lighoofdig begin voel en opgegooi. Ek het ’n EpiPen in my motor gaan soek, maar vergeefs. Ek is roggelend en klouend aan my keel terug na die winkel terwyl klante en personeel rondom my histeries raak en daardie bestuurder kalm op die rekenaar staan en tik.”

Danielle is daarna terug na die agterkamer by die winkel waar ’n manlike personeellid “my basies teen die trappe moes opdra en my besittings vir my kry, want ek was so lighoofdig dat ek (skaars) kon regop staan, en ek kon nie my hande en voete voel nie”.

“Terwyl ek toe gaan om uit te klok, het ek een van my kollegas hoor gil: ‘Moet ek ’n ambulans bel?’ Die bestuurder het haar geïgnoreer. Nadat ek uitgeklok het, het sy ewe kalm aan my gesê: ‘Stuur vir my ’n SMS wanneer jy by die hospitaal is.’ (Ek was duidelik nie in staat om ’n motor te bestuur nie.) Toe my vriendin (nog ’n werknemer op pad werk toe) in die parkeerterrein kom, het ek vir haar gewink en sy het sonder om te huiwer met my na ’n kliniek gehaas.”

Teen daardie tyd was haar keel “heeltemal toe” en het sy “byna bewusteloos geraak weens ’n gebrek aan suurstof”.

“Toe het die bestuurder ons albei per SMS-boodskap afgedank,” het sy onthul en verwys na ’n skermgreep van die teksboodskap wat haar bestuurder gestuur het.

“Ek glo daar behoort altyd ’n EpiPen byderhand wees in elke winkel. Wie weet wanneer ’n klant skielik een kan nodig kry, of daar is iemand wat nie bewus is van ’n allergie nie en wat nie ’n EpiPen besit nie?

“Volgens die dokters sou ek dood gewees het as ek 10 minute langer gewag het.” Danielle sê sy het haar storie gedeel ten einde mense bewus te maak van allergieë in die werkplek. “Mense behoort opgelei te word ten opsigte van die manier waarop ’n EpiPen aangewend kan word, hoe om ’n soortgelyke situasie te hanteer en hoe om die nadraai te hanteer,” het sy in die plasing, wat meer as 17 500 keer gedeel is, geskryf. Urban Planet het Twitter aangewend om op die storie te reageer. “Die optrede van die bestuurder was onaanvaarbaar, om dit eenvoudig te stel,” het die kleinhandelaar in ’n reeks twiets gesê. “Ons is besig om op te tree ten einde seker te maak ons winkelbestuurders verstaan wat ons in ’n soortgelyke situasie verwag.”

Bronne: Facebook; Twitter