Met die bekendmaking van die genomineerdes vir die Grammys 2017 Dinsdagmiddag, was dit weer eens verblydend om een van Suid-Afrika se gunsteling-groepe daar te vind: Ladysmith Black Mambazo!

Die groep se album Walking In The Footsteps Of Our Fathers is vir die Beste Wêreld-musiekalbum-kategorie genomineer.

Die ander genomineerdes is:

Destiny — Celtic Woman

Sing Me Home — Yo-Yo Ma & The Silk Road Ensemble

Land Of Gold — Anoushka Shankar

Dois Amigos, Um Século De Música: Multishow Live — Caetano Veloso & Gilberto Gil

Ladysmith Black Mambazo se geskiedenis strek terug tot met hul eerste nominasie wat vir Grammy in 1988 vir Shaka Zulu besorg het. In 2004 maak hulle weer so, dié keer met Raise Your Spirit Higher.

Daar was duidelik nog genoeg plek vir nog 'n Grammy of twee. In 2009 kry die groep een vir Honoring Shaka Zulu en in 2013 is daar nog 'n Grammy-toekenning met hul naam daarop vir Live: Singing for Peace Around the World.

Joseph Shabalala was 'n jong plaasseun wat as 'n fabriekwerker in die vroeë 1960's die aanvoorwerk vir die groep gedoen het.

Ladysmith was sy tuisdorp, die woord "Black" verwys na die sterkste trekdier op 'n plaas - die os. "Mambazo" is die Zoeloe-woord vir 'n byl en dis hoe die groep hul singende teenstaanders sou "afkap".

Hulle het dit so goed reggekry dat hulle aan die einde van daardie dekade verbied was om aan kompetisies deel te neem!

Die groep leun swaar op 'n tradisionele musiekstyl bekend as isicathamiya, 'n styl wat in die plaaslike myne baie gewild was.

Ladysmith Black Mambazo het onder meer met die volgende bekendes opnames gemaak: Paul Simon, Stevie Wonder, Dolly Parton, Sarah McLachlan, Josh Groban, Emmylou Harris en Melissa Etheridge. Die lys hou net nie op nie.

Die Grammy-toekennings bestaan uit 'n allemintige 84 kategorieë en die wenners sal tydens 'n glansgeleentheid op 12 Februarie 2017 aangekondig word.

Beyoncé het nege nominasies ingeryg terwyl Drake, Rihanna en Kanye West elk met agt spog.

KLIK HIER vir die volledige lys vir Grammy 2017-toekennings.

Bronne: billboard.com, wikepedia.com, mambazo.com