Die regsverteenwoordiger van Christopher Panayiotou, een van die verdagtes in die Jayde Panayiotou-moordsaak, meen die kans vir ’n suksesvolle borgtogaansoek is goed berig Netwerk24.

Alwyn Griebenow, wat Maandag in die Noordeinde-landdroshof in Port Elizabeth as Panayiotou se prokureur opgetree het, sê ’n aansoek om borgtog sal binnekort ingedien word.

“Die borgtogaansoek sal beslis voor 19 Junie (wanneer Panayiotou weer in die hof moet verskyn) gebeur,” het Griebenow gesê.

Panayiotou het Maandag as die tweede verdagte vir sy vrou, Jayde, se moord en ontvoering voor landdros Jan van der Westhuizen verskyn.

Jayde is op 21 April voor hul meenthuiskompleks in Kabega Park ontvoer.

Christopher is Maandag van sameswering tot moord, sameswering tot ontvoering, roof met verswarende omstandighede en moord aangekla.

Dié saak is uitgestel tot 19 Junie wanneer Sizwezakhe Vumazonke (30), ook ’n verdagte in dié saak, weer in die hof sal verskyn.

Panayiotou is tans in aanhouding by die St. Albans-gevangenis.

Die borgtogaansoek vir Christopher sal binne die volgende week of twee ingedien word.

Thando Siyoli (31), nog ’n verdagte in die Jayde-moordsaak, sal weer Donderdag in die landdroshof verskyn.

Bron: Netwerk24