Prins William van Brittanje soek ’n spesiale geskenk vir sy vrou.

William (31) wil die geboorte van hul eersteling, prins George, gedenk deur vir Catherine ’n betekenisvolle aandenking te gee. Hy het glo op ’n borsspeld met ’n pienk diamant besluit.

’n Bron het aan die koerant Daily Express gesê: “William het lank hieroor nagedink. Hy het baie idees uit sy studies van kunsgeskiedenis op universiteit gekry. Hy het besluit op ’n pienk diamant as middelpunt, want dit is mooi en vroulik. Dit sal ’n dankiesê-geskenk aan Kate wees.”

Catherine was voor haar huwelik met William as Kate Middleton bekend.

Die prins het die hulp van die koningin se juweliers gevra om die spesiale sierstuk vir Catherine (31) te ontwerp. Hy het dit blykbaar oorweeg om vir die brunet, wat reeds sy ma, wyle prinses Diana, se verloofring dra, nog ’n item uit sy ma se versameling juweliersware te gee voor hy ’n persoonliker geskenk gekies het.

William het intussen teruggekeer na sy werk as ’n soek-en-reddingsvlieënier vir die koninklike lugmag noudat sy vaderskapverlof verstryk het.

George, wat op 22 Julie gebore is en die derde aanspraakmaker op die troon is, sal die volgende paar weke saam met Catherine by haar ouers, Michael en Carole Middleton, se huis in Bucklebury, Berkshire, bly.