Die man is in die middel van ’n Pinksterweek waar hy elke aand ’n gemeente moet toespreek; sy vrou is amper sewe maande swanger; sy eksvrou dagvaar hom vir meer onderhoud, en intussen vertel sy tienerkinders by sy eks dit voel of hy hulle afskeep (As Pa my net kon hoor,9 Junie 2011).

Dis ’n moeilike tyd vir die gospelsanger Willie Joubert. Maar dinge gebeur met ’n doel,glo hy.

“Kyk, as dit op skrif staan in Huisgenoot dat Nastassjé (16) en Menanteau (18) afgeskeep voel, dan is daar rede tot kommer,” weeg hy sy woorde versigtig.

Maar hy voel tog hy is dit aan sy twee kinders uit sy huwelik met Jennifer Chatburn en aan sy aanhangers verskuldig om sy kant van die saak te stel.

In die artikel was daar klagtes dat hy nie genoeg onderhoudsgeld betaal nie, nie sy kinders se optredes en sportgeleenthede bywoon nie en hulle nie gereeld bel nie. Kortom: Hy gee nie meer vir sy kinders om nie.

Willie sê hy het juis gedink hy is besig om aan ’n goeie verhouding met sy kinders te werk toe die bom in Huisgenoot bars.

Toe dagvaar Jennifer hom boonop vir meer onderhoud. Hoekom gebeur dit alles juis nou met hom?

“Ek is seker ’n bietjie meer bekend as tevore vanweë my vrou se swangerskap en die Sama-toekenning (vir die beste Afrikaanse gospel-album) wat ek vanjaar gewen het.”

Lees meer in die Huisgenoot van 16 Junie.

Volg Huisgenoot op Twitter.