Prins William van Brittanje wil in die Britse herfs sy seun na sy oorlede ma se graf neem.

William en sy vrou, Catherine (voor hul huwelik bekend as Kate Middleton), sal later vanjaar reis na prinses Diana se voorvaderlike tuiste, die Althorp-landgoed in Northamptonshire in sentraal Engeland. William wil glo seker maak sy ma, wat in 1997 in ’n motorongeluk dood is, is steeds deel van George se lewe.

’n Bron het gesê: “Diana is steeds ’n belangrike deel van Willam en Harry se lewe. Wat hulle betref, is sy heeltyd by hulle. Die prinse was baie na aan hul ma en dit sal altyd vir hulle ’n tragedie wees dat sy nie in hul volwasse lewe by hulle kon wees nie. Hulle besoek haar graf gereeld en het ’n belofte gemaak dat hulle altyd die belangrike tye met haar sal deel.

“Dus sal dit ’n baie roerende oomblik wees wanneer Kate en William klein George neem om by sy ouma te gaan ‘kuier’.

“Toe Kate swanger word, het William dadelik geweet hy wil die baba so gou moontlik aan Diana voorstel. Hy wil dit ’n instelling maak en sal sy seun vertel watter wonderlike vrou Diana was. Hy het Kate kort voor hul troue na Diana se graf geneem en hy voel dit is reg om baba George ook te neem.”

Die egpaar sal ook die geleentheid gebruik om George, wat op Maandag 22 Julie gebore is, voor te stel aan graaf Spencer, Diana se broer.

’n Bron het aan die koerant Sunday People verklap: “Hy wil nie net sy seun vir Diana se familie, wat baie trots is op William, wys nie, dit is ook ’n plek waar hy nader aan sy ma kan voel.”