Die prins het onlangs verlof gehad toe sy seun, prins George, gebore is; hy vertel hy en sy vrou, Catherine, kon heelparty nagte niks slaap inkry nie en ’n deel van hom sal dus bly wees om terug te gaan werk toe.

William (31) werk tans as ’n soek-en-reddingsvlieënier vir die koninklike lugmag, maar sal na verwagting ’n pos nader aan die huis kry wanneer sy kontrak met die lugmag volgende maand tot ’n einde kom. Hy het gesê: “Wel, soos nuwe pa’s seker weet, sien ek eintlik daarna uit om terug te gaan werk toe – om weer slaap te kry. So ek hoop net die eerste paar skofte wanneer ek teruggaan is nie nagskofte nie.”

William en Catherine sal Anglesey in Noord-Wallis, waar William gestasioneer was, ook binnekort verlaat om permanent terug te gaan na Kensington-paleis in Londen. Hy wil graag hê hulle moet George so onafhanklik moontlik grootmaak.

Hy het aan CNN gesê: “Ek wil so onafhanklik moontlik wees. Dieselfde geld vir Catherine en Harry. Ons het almal anders as ander generasies grootgeword. Ek voel dikwels as ek dit self kan doen, wil ek dit self doen.

“Maar ja, daar is tye dat jy iets nie self kan doen nie en die stelsel oorneem of soms is dit nie van pas om dinge anders te doen nie.”