Dit lyk of die vrou wat destyds vir prins William en Harry teen hul ouers se skreeuende bakleisessies probeer beskerm het, nou prins George se ‘nanny’ gaan word, sê ons koninklike blogger. Dan is daar ook die storie dat Catherine jaloers is op Harry se meisie . . .

NÁ ’n maand se koninklike komkommertyd begin dinge agter die Britse paleismure uiteindelik weer woel.

G’n mens weet nog of klein prins George al ’n fyn haredos op sy kroon het nie, maar wat ons wel weet is dat die babaprins Woensdagaand die eerste keer vir prins Harry geglimlag het. Harry het by ’n openbare geleentheid vertel hy het klein George pas gesien, en dat dié gewoonlik of slaap of huil as hy daar aankom, maar dat hy hom sowaar sien glimlag het.

Dit laat vermoedens ontstaan dat William tans saam met Catherine en George in die Kensington-paleis is en dat hulle binnekort hul intrek in hul nuwe wooneenheid daar sal neem. Ná intensiewe restourasiewerk is die steierwerk uiteindelik voor die paleis se vooraansig afgehaal, wat beteken die Cambridges sal eersdaags hul knus kothuis in die paleiskompleks verruil vir Eenheid 1A.

Dit lyk gelukkig of Catherine uiteindelik hulp gekry het. Vanaand (Donderdagaand) moet sy en William weer ’n openbare geleentheid bywoon en sy kan nie meer net op ouma Middleton as oppasser staatmaak nie.

Jessica Webb, eertydse oppasser van William en Harry, het haar aftrede vaarwel geroep en is die afgelope week saam met Catherine by ’n McDonald’s gesien. Jessica (71) is destyds ná ’n uitval deur Diana by die paleis uitgewerk, maar William het haar na sy troue en sy 21ste verjaardagvierings genooi.

[caption id="attachment_51930" align="aligncenter" width="417"]Jessica Webb, Diana en die klein prinsies Harry (links) en William in 1991. Foto: Inpra Jessica, Diana en die klein prinsies Harry (links) en William in 1991. Foto: Inpra[/caption]

Jessica, wat beskou word as ’n vertroueling wat nie sal wil munt slaan uit haar verbintenis met die koninklikes nie, het in William en Harry se kinderjare probeer om hulle te beskerm teen die onmin tussen Charles en Diana. Nou vertrou William sy eersteling aan haar toe.

Met dié dat die Cambridges Londen nou hul permanente tuiste gaan maak, is die moontlikheid van steelfoto’s natuurlik groot. Enige foto van Catherine wat met ’n stootwaentjie en hul hond Lupo in die park om die paleis gaan stap of by ’n winkel in Kensington High Street inloer, gaan paparazzo-kos wees. Hul privaatheid gaan baie meer beperk wees as op Anglesey, waar William gestasioneer was en hulle voorheen gewoon het.

William was glo reeds vies oor die steelfoto’s wat ’n paar weke gelede die lig gesien het toe Catherine in Anglesey gaan inkopies doen het. Almal wag nou om te sien wat sy reaksie op die foto’s van Catherine buite McDonald’s gaan wees, want dit is duidelik steelfotografie. William voel baie sterk daaroor dat hy en Catherine na hartelus gekiek kan word met openbare geleenthede, maar in privaat tye wil hulle graag soos gewone mense  op straat kan rondstap. Die Britse media is gemaklik met die reëling, maar dit is veral buitelandse agentskappe wat die informele reël oortree.

Die volgende groot geleentheid is natuurlik die doop van prins George en hopelik baie, baie foto’s van hom en sy ouers saam met sy grootouers en natuurlik sy diverse peetouers.

Die gerug dat Guy Pelly, ’n lid van William se getroue binnekring, moontlik peetpa gaan wees, kan óf ’n toetsie wees om te kyk of Pelly byt, óf dis ’n wolhaarstorie.

Pelly is al van skooldae af hegte vriende met William en Harry en besit verskeie nagklubs waar die prinse sonder kommer en in absolute privaatheid kan kuier. Maar hoewel William en Catherine gereeld buite sy klubs afgeneem is (en Catherine mos die groot “sonde” begaan het om te gaan hare kam en lipstiffie aansit voor sy die wagtende pers moes trotseer), is die twee nie meer partytjiediere nie. Selfs die partytjieprins Harry word deesdae selde buite ’n klub gekiek, wat nog te sê saam met sy liefie Cressida.

So van Cressida gepraat. Gerugte dat Catherine nie ooghare vir Cressida het nie, is weer een van daardie stories. Cressida se halfsuster Isabella Anstruther-Gough-Calthorpe is mos nou die dag met Richard Branson se seun getroud, nogal hier in Suid-Afrika, en was vir ’n kort rukkie – toe William en Catherine uitgemaak het – romanties by William betrokke. Dat William Isabella kwansuis sou vra om met hom te trou en sy die aansoek van die hand gewys het omdat sy nie vir die koninklike lewe kans gesien het nie, laat my ook net kop skud.

[caption id="attachment_51927" align="aligncenter" width="514"]Isabella Calthorpe en Sam Branson se troue was op die voorblad van die tydskrif Hello. Isabella Calthorpe en Sam Branson se SA troue was op die voorblad van die tydskrif Hello.[/caption]

As Catherine só lank moes wag dat William vir haar die jawoord vra, sou hy tog sekerlik nie te midde van ’n warrelwindromanse vir Isabella die groot vraag gevra het nie. En die feit dat Isabella na William en Catherine se troue genooi is, maar nie na enige van die onthale nie, kan ook darem nou ook nie aan jaloesie toegedig word nie.

  • Die fliek Diana, wat ook binnekort in SA uitgereik word, het maar ’n kil ontvangs in die Britse pers gekry – so ysig dat die fliek glo skaars ’n week ná die premiere op DVD uitgereik gaan word sonder om in rolprentteaters te draai.

[caption id="attachment_51925" align="alignnone" width="400"]Naomi Watts (links) speel Diana (regs) in die mislukte fliek Diana. Naomi Watts (links) speel Diana (regs) in die mislukte fliek Diana.[/caption]

Die fliek is volgens Richard Kay, ’n joernalis op wie Diana baie staatgemaak het om haar kant in die pers te stel, vol feitefoute.

- Arlene Prinsloo

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Sy is ook Huisgenoot se koninklike blogger. Lees haar ander blogs by:

Kul jou hier, kul jou daar

Oor koninklike bedsake en trousake

Die hartseer einde van prins Friso

Wat maak klein Gallie daar?

Welkom in die wêreld!

Is baba C stylvol laat?

Baba C gaan luid verwelkom word . . .

Harde werk tot Baba C opdaag!

Laaste sien van Catherine? 

Wie weet?

Dit is amptelik Julie, baba C se geboortemaand!