Prins William van Brittanje het erken dis “fisiek en intellektueel uitdagend” om ’n ouer te wees.

William en sy vrou, Catherine, het op 22 Julie die eerste keer ouers geword toe hul seun, prins George, in Londen gebore is. William het grappenderwys vertel sy seun is “lawaaierig maar aantreklik”.

Hy was vandeesweek by die Anglesey-skou in Noord-Wallis en het gesê: “Catherine en George sou graag hier wou wees. Hy is nogal luidrugtig – en natuurlik baie aantreklik. Ek moet sê, ek het gedink my werk is fisiek en intellektueel uitdagend, maar om ’n drie week oue baba te versorg is net so erg.”

Die koninklike egpaar woon sedert Januarie 2010 op Anglesey, waar William by die koninklike lugmag as ’n soek-en-reddingsvlieënier werk. Die gesin verhuis aanstaande maand.

Terwyl hy jammer was om te groet, het hy bygevoeg dat hulle “uitsien” daarna om in die toekoms as ’n gesin terug te keer.

Hy het bygevoeg: “Ek weet ek en Catherine gaan dit albei baie mis. Uit die diepte van my hart, dankie dat julle my en my vrou so welkom laat voel het toe ons hier aangekom het, soos julle duisende besoekers elke jaar laat voel. Ons eerste tuiste saam was op dié eiland, en dit sal altyd vir ons ’n ontsettend spesiale plek wees. Ek en Catherine sien uit daarna om in die komende jare weer en weer saam met ons gesin terug te kom.”