Prins William van Brittanje en sy vrou, Catherine, sal “verstandige” ouers wees, reken die afrondings- en etiketkenner Jean Broke-Smith.

William en Catherine se eersteling, prins George, is op 22 Julie gebore. Hy is die derde troonopvolger.

Jean het gesê: “Ek dink William en Kate is verstandig. Hulle is versigtig besig om hierdie baba die groot, wye wêreld in te bring – en hy is so ’n belangrike baba, iemand wat eendag oor ons almal sal regeer.”

William het onlangs verklap hy het George se eerste vuil doek omgeruil, en Jean verwag die 31-jarige koninklike, wat Catherine (31) en George ’n paar dae ná die baba se geboorte self huis toe geneem het van die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, gaan ’n baie betrokke pa wees.

Sy het aan HELLO! Online gesê: “Dis so ’n spesiale tyd. Ek is seker William is ’n baie betrokke pa, en daar sal tye wees dat hy sal help om die baba te bad en dit sal geniet om met hom te speel. Al hierdie dinge het ek, as ’n ma, so spesiaal en rustig gevind.”