Prins Harry beweer prins William is “jaloers” op sy ekspedisie na die Suidpool.

Die 29-jarige het gespot sy ouboet wens stilletjies hy kon saam met hom aan die liefdadigheidswedren South Pole Allied Challenge 2013 deelneem om ’n bietjie weg te kom van sy luidrugtige vier maande oue seun, George.

Harry het uit Antarktika aan Sky News gesê: “Ek dink my broer is jaloers dat ek dit reggekry het om van ’n skreeuende kind af weg te kom.”

Die prins neem aan die wedren deel saam met 12 oudsoldate wat lewensveranderende beserings oorkom het. Hulle samel geld in en bevorder bewustheid vir die liefdadigheidsorganisasie Walking with the Wounded, waarvan Harry ’n beskermheer is.

Die Britse, Amerikaanse en Statebond-span pas nou by die klimaat aan en kry hul toerusting reg voor hulle die moeilike wedloop van 335 km aanpak. Hulle sal temperature van so laag as -45 °C en wind van tot 80 km/h moet trotseer.

Harry het onthul sy grootste bekommernis was om sy ouma, koningin Elizabeth, en haar man, prins Philip, gerus te stel hy sal veilig wees tydens die drie weke lange reis.

Hy verduidelik: “Ek het natuurlik al die ouens na Buckingham-paleis geneem om my ouma en oupa te ontmoet. Hulle was mak daaroor. Veral Inge Solheim was baie opgewonde. Dit was wonderlik.

“My pa was ’n bietjie besorg, maar ek het hom natuurlik probeer kalm hou en verduidelik dit was die Noordpool wat gevaarlik was, want ons het op ’n bevrore oseaan geloop terwyl daar hierdie keer gletserskeure is.

“Maar hopelik sal die gidse ons rondom die goed neem. Buiten vriesbrand, behoort jy na jouself te kan omsien solank jy net suid mik.”