Die woordvoerder vir die hertog en hertogin van Cambridge het gesê die fotograaf het dalk die prins se daaglikse roetine “dopgehou” en die kleuter is verlede week uit ’n park in die middestad van Londen “verwyder” toe die betrokke fotograaf te naby kom.

“Die hertog en hertogin het regstappe gedoen om te vra dat ’n individu prins George en sy oppasser ophou teister en agtervolg,” het die woordvoerder aan AFP gesê en verduidelik prokureurs het ’n waarskuwingsbrief namens die koninklike egpaar geskryf.

“Die hertog en hertogin het begrip vir die besondere openbare rol wat prins George eendag te beurt sal val, maar terwyl hy jonk is, moet hy toegelaat word om so ’n gewoon moontlike lewe te lei,” het die woordvoerder gesê.

“Geen ouers sou die vermoede duld dat iemand hul kind en dié se versorger agtervolg en teister terwyl hul kind in ’n openbare park speel of hul daaglikse gang gaan nie,” het hy bygevoeg.

Die koerant London Evening Standard het berig ’n fotograaf het die eenjarige prins in Battersea-park probeer afneem.

Dit het ook berig die polisie het ’n fotograaf aangesê om aan te beweeg toe hy buite Buckingham-paleis wag. Prins George word soms daarheen geneem om in die paleis se swembad te swem.

George, die derde troonopvolger, word gereeld afgeneem wanneer hy saam met sy ouers by openbare geleenthede is, maar nie terwyl hy op ’n uitstappie geneem word of saam met ander kinders speel nie.

Die koningsgesin het ’n moeilike verhouding met die Britse media, wat ’n laagtepunt bereik het toe William se ma, Diana, in 1997 in Parys in ’n padongeluk sterf terwyl fotograwe haar motor agtervolg het.

Die koningsgesin en die Britse media het ’n informele ooreenkoms aangegaan om te sorg dat William en sy jonger broer, prins Harry, nie agtervolg word terwyl hulle grootword nie.

Die publikasie van foto’s waarin Catherine in 2012 in Frankryk saam met William bostukloos sonbaai, het onlangs ’n opskudding veroorsaak. Die egpaar het toe ’n Franse hof genader om vererde publisering van die foto’s te stuit.