PRINS WILLIAM het uiteindelik die groot vraag gevra. Hulle is al jare saam, het al uitgemaak en weer opgemaak, skivakansies in Switserland en Afrika-safari’s meegemaak, op die strand baljaar en eindeloos saam glansgeleenthede bygewoon – en nou het William uiteindelik ’n einde gemaak aan die gissinge oor wanneer hy sy meisie gaan vra om die toekomstige koningin van Engeland te word.

Die wêreld het gejubel toe die aankondiging uiteindelik gemaak is. Oorloë, vloede, vulkane, Somaliese seerowers, korrupsie en sportskandale moes vir eers opsystaan; Wills het Kate Middleton gevra om te trou en dit was die hoofnuus van die dag.

Die 28-jarige prins het die jawoord gevra toe hulle in Oktober in Kenia vakansie gehou het, maar dit is weke lank

tjoepstil gehou, om watter koninklike redes ook al dié geheimhouding vereis het.

“Die troue gaan in die lente of somer van 2011 in Londen plaasvind,” het die amptelike verklaring van Clarence House gelui. “Nog besonderhede oor die troue sal later bekend gemaak word.”

Meer as 750 miljoen mense was voor hul kassie vasgenael toe prins Charles en prinses Diana in 1981 afhaak, maar dié wat weet, sê baie meer mense sal William en Kate se troue dophou.

Die sprokiesverhaal gaan nie minder glansryk wees nie. Die lang, aantreklike William en Kate, skraal, bruingebrand en elegant, is ’n treffende paartjie. As bruid en bruidegom sal hulle onweerstaanbaar wees.

Ons het gaan kyk hoe hul groot dag moontlik kan verloop, en sommer ook weer die koninklike romanse bekyk. Lees alles daaroor in die Huisgenoot van 25 November 2010.