Brittanje se prins William en sy vrou, Catherine, lê volgende maand besoek af in Glasgow, Skotland.

Die koninklikes, wat in Skotland bekend staan as die graaf en gravin van Strathearn, woon ’n paar geleenthede in Glasgow by op 4 en 5 April, het St. James-paleis gister gesê.

William en Catherine, wie se eersteling in Julie verwag word, sal onder meer in die Emirates Arena gaan kyk hoe fietsryers en netbal- en pluimbalspelers oefen. Daarna gaan hulle na die Quarriers Stopover Project om te sien hoe dié liefdadigheidsorganisasie jong haweloses help met korttermynverblyf.

Die paartjie gaan ook die prins se pa, Charles, ontmoet vir die opening van die Tamar Manoukian buitelug sentrum by Dumfries House, ’n herehuis wat Charles help restoureer het.

-         Bang Showbiz