Brittanje se prins William en hertogin Catherine gaan nie ’n “tradisionele koninklike kinderoppasser” hê nie, want hulle wil betrokke ouers wees, sê Jenny Bond, ’n kenner van die koningsgesin.

Die paartjie se eerste kind word in Julie gebore en volgens Jenny sal hulle uiters betrokke ouers wees, sodanig dat William sy rol as ’n vlieënier van ’n soek-en-reddings-helikopter sal los om meer tyd saam met sy vrou en kind deur te bring.

“William gaan doeke omruil!” sê Jenny in die jongste uitgawe van die tydskrif Bella. “Ek dink ons gaan binnekort hoor dat hy RAF groet en huis toe trek. Hy is vasbeslote om Kate en sy kind te ondersteun. Hulle sal ’n oppasser hê, maar beslis nie ’n voltydse of die tradisionele koninklike kinderoppasser nie.”

Jenny dink nie William se ouma, koningin Elizabeth, gaan baie “betrokke” wees nie, maar sy reken sy sal die “nodige teerheid teenoor en belangstelling in die baba toon”.

“Ek dink nie die woorde “betrokke” en “babas” hoort in dieselfde sin as “die koningin” nie! Sy is baie gehegter aan haar kleinkinders as wat sy aan haar eie kinders was, maar ek dink nie sy gaan doeke omruil of winde uitvryf nie. Sy sal die nodige teerheid en belangstelling as oumagrootjie toon.”