Willem vertolk die hoofrol in Reik na die Sterre, ’n nuwe blyspel wat op Bles se treffers gegrond is en wat in Julie in die Staatsteater in Pretoria begin. In aanloop tot die blyspel het hulle onlangs ’n musiekvideo van die temalied gemaak. Die video is gister bekendgemaak en Huisgenoot-lesers kan hier ’n eksklusiewe kykie daarna kry.

Kyk ook uit vir die nuweling Kristen Raath, wat saam met Willem in die video sing en ook teenoor hom op die verhoog te sien is. Sy is ’n matriekleerling aan die Hoërskool Nelspruit.

Die storielyn is losweg gegrond op die verhaal van Stefan, ’n atletiese tiener wat op soek is na die betekenis van ware liefde, en nog moet leer dat ’n mens se liefdespad dikwels baie kronkel. Hy ontmoet die nuwe meisie in die dorp, Jana, en raak dadelik verlief op die 19-jarige skoonheid. Maar niemand het ooit gesê om verlief te wees gaan maklik wees nie . . . Willem vertolk die rol van Stefan en Kristen dié van Jana.

Gesoute sangers soos Richard van der Westhuizen en Sarah Theron kan ook in die video gesien word.

- Suzanne Venter