Willem en sy vrou, Nicolene, se eersteling, Lisa, is Dinsdag by die Netcare Umhlanga-hospitaal gebore. Die kleinding is op 34 weke gebore en weeg 2,25 kg. Sy is 45 cm lank, vertel haar trotse ma. “Ons het baie gebid oor die naampie. Dit beteken toegewyd tot God. Sy is ’n wonderwerkie, want ek het komplikasies tydens die swangerskap opgedoen en sy sou dan baie vroeër gebore moes word. So ons gee alle eer aan God dat Hy ons gedra het,” sê Nicolene. “Willem was gelukkig hier en dis vir hom ’n ongelooflike en onbeskryflike ervaring.” Veels geluk, julle twee! Ons weet klein Lisa gaan sommer vir julle hope vreugde en geluk bring.

- Lara Atson