PRAAT deesdae van vinnig opgang maak in sportkringe en Willem Alberts doem dadelik in mense se gedagtes op.

Skaars ’n jaar gelede was hy ondanks sy en sy Lions-makkers se moedige pogings steeds in ’n trofee-droogte vasgevang. Nou kan hy as Natal Shark ’n groot Curriebeker-titel-regmerk agter sy naam maak.

Maar nog beter: Hy’t min of meer oornag een van die opwindendste nuwe vondse in Bok-rugby geword hier aan die vooraand van Nieu-Seeland 2011. En Suid-Afrika kan juis nou doen met nuwe woema.

Dis min of meer onmoontlik om hierdie ou te keer as hy aan die gang kom, skerts iemand op die internet, en vertel dan hoe Willem oftewel “Big Vic” homself glo een keer uit sy Durbanse huis gesluit het: “So loop hy toe maar deur ’n symuur en tref sy mooi vrou in die kombuis aan, besig met sy aandete van drie hoenders. En het hulle toe nie lekker gelag nie...”

Ja, wanneer daar oor Willem grappies gemaak word, is dit gewoonlik ook in die oortreffende trap. En hoe dan anders, ná ’n Sharks-seisoen waarin die Pretoriase boorling min of meer alles voor hom weggevee het?

Vir die Bokke het hy ook ’n slag of wat op kritieke oomblikke deur ’n skynbare muur van verdedigers gebars, of miskien eerder soos ’n muur voor ongelukkige aanvallers opgeduik.

Nick Easter, Engeland se toonaangewende losvoorspeler wat  soms as kaptein waarneem, het hom byvoorbeeld spesifiek uitgesonder in ’n onlangse rubriek waarin hy erken het die Bokke het die Rose “geestelik en liggaamlik gekneus” daar in hul eie agterplaas, Twickenham:  “Willem Alberts beleef ’n droombegin vir sy toetsloopbaan. Drie keer op die bank, drie keer op die veld en drie drieë. Super-sub . . .”