Sosiale netwerke het Dinsdag gegons met gerugte dat die Amerikaanse akteur Will Smith gesterf het op die stel van sy nuutste fliek.

Volgens Mediafetcher.com het die akteur  vroeër vandag gesterf toe hy by ‘n krans afgeval het tydens die verfilming van sy nuutste rolprent in Nieu-Seeland.

Ook op Twitter en Facebook het duisende mense wêreldwyd gevra vir antwoorde oor Smith se dood.

“Is dit die waarheid of leuens?” wou Frank Njoro op Smith se Facebook-blad weet.

Ander was vas oortuig dat hierdie net nog ‘n sogenaamde “virtuele dood” is. “Nee! Hy lewe,” het ‘n aanhanger geskryf.

Daar was geen reaksie oor Smith se beweerde dood op sy Facebook-blad of webtuiste nie. Die laaste amptelike inskrywing op sy Facebook was Saterdagoggend gewees.

Smith was in 2009 ook die slagoffer van so 'n web-grap toe daar berig is dat hy in 'n motorongeluk gesterf het.

Die sanger Justin Bieber en die akteur Jackie Chan is maar net van die bekendes wat ook al deur Twitter "vermoor" is.

Hou ons webtuiste en Facebook-blad dop vir enige verwikkelinge op hierdie storie.

Volg Huisgenoot op Twitter.