HULLE is so te sê koninklikes in Hollywood met biljoene in die bank en hope talent in hul gene. Hy is al twee keer vir ’n Oscar benoem en sy flieks laat kykers na teaters stroom; sy is ’n smeulende sangeres en aktrise wat ook al as romanskrywer ontpop het.

Maar die glinsterstad se supersterre Will en Jada Smith moet maar hul tydjie in die kollig geniet terwyl hulle kan. Hul kinders het hul talent vir toneelspeel geëerf – en hulle gaan Ma en Pa dalk een van die dae in die skadu stel.

Toe Jaden Smith (11) vier jaar gelede in The Pursuit of Happyness teenoor sy beroemde pa gespeel het, kon ’n mens al sien hier kom ’n ding. Nou bewys hy met sy eerste hoofrol in ’n rolprent hy het ook die slag om rolprentteaters vol te maak.

Die nuwe weergawe van die klassieke fliek van die 80’s, The Karate Kid, het meer geld in Amerika verdien as amper al Will se rolprente in dieselfde tyd.

Dit het al $300 miljoen (sowat R2,2 biljoen) laat inrol – veel meer as Will se jongste fliek, Seven Pounds, wat altesaam $168 miljoen (R1,2 biljoen) verdien het. Net I am Legend en Hancock – wat onderskeidelik $329 miljoen (R2,4 biljoen) en $620 miljoen (R4,6 biljoen) verdien het – het beter by die loket gevaar.

The Karate Kid het ook die The A-Team geklop wat met sterre soos Liam Neeson, Bradley Cooper en Jessica Biel spog en op dieselfde dag begin draai het.

“Ek begin wonder of hy nog enigsins in ons huis hoef te bly,” skerts die 41-jarige Will. “As nog een mens my die Karate Kid se pa noem, word Men in Black III dadelik uitgereik!” dreig hy kamstig.

Jaden se spel het selfs die strengste Hollywood-kritici se mond gesnoer wat eers gesê het hy het net die rol danksy sy ouers gekry. Party sinspeel nou selfs daarop dat die nuwe weergawe, wat op 17 September hier begin draai, beter is as die oorspronklike fliek van 1984 met Ralph Macchio as Daniel Larusso en Pat Morita as Mr Miyagi.

Dit lyk of die jong ster nes sy ouers hope selfvertroue het. Op die vraag of hy ’n groter ster as sy pa wil word, het hy ewe laat hoor: “Ek gaan probeer!”

Will dink beslis hy kan. “Ons sou graag die eer wou kry vir alles wat Jaden bereik het, maar die waarheid is hy het dit op sy manier gedoen. Hy het geen formele teateropleiding nie, afgesien van goeie gene. Niemand weet wat hierdie kind alles kan regkry nie,’’ sê die trotse pa.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 September 2010

Op die internet:

http://www.karatekid-themovie.com/