Will Smith dink die vermaakbedryf is soos ’n dwelm.

Die I Am Legend-akteur en sy vrou, Jada Pinkett Smith, was besorg daaroor om hul kinders, Jaden (14) en Willow (12), aan die vermaakbedryf bekend te stel omdat die voortdurende media-aandag so verslawend en allesoorheersend is.

Volgens The Sun het Will erken: “Ek dink die grootste gevaar van die besondere bedryf is streng emosioneel. Die bedryf het ’n amper verslawende eienskap.

“Dis amper asof jy jou kind aan ’n dwelm voorstel.”

Die Fresh Prince of Bel Air-ster, wat as ’n rapper en akteur sukses behaal het, help Willow ’n sangloopbaan najaag en ondersteun Jaden se rolprent- en musiekdrome.

Maar Will hou vol hy druk nie sy kinders in die kollig in nie en bied hulle bloot ’n helpende hand om hul gekose loopbaandoelwitte te bereik.

In ’n onderhoud met Vuture.com het hy verduidelik: “Dit lyk dalk of ons ons kinders in die bedryf ingedruk het, maar dit is belaglik. Ek sal iemand nooit ooit druk om hul gesig op ’n plakkaat te hê wat oral in die wêreld gaan wees nie.

“(Jaden) maak ’n ingeligde keuse. Dis vir my minder vreesaanjaend as wat hy ’n tandarts wil wees en ek hom nie met sy keuse kan help nie.

“Ek het bande met van die grootste rolprentmakers en akteurs en vervaardigers op aarde. Dus kan ek baie help.”

Die pa en seun het die eerste keer saam op die silwerdoek verskyn in The Pursuit of Happiness toe Jaden maar sewe was. Hulle het nou weer saamgewerk aan die nuwe wetenskapsfiksiefliek After Earth.

Gevra of hy weer saam met sy pa sal werk, het Jaden geskerts: “Ek sal beslis nog een doen. Jy weet hoe Johnny Depp en Tim Burton altyd saam flieks maak, en Martin Scorsese en Leonardo DiCaprio? Ons sal so ’n verhouding hê.”