Die 45-jarige akteur, wat onlangs die tonge laat klap het dat sy huwelik van 16 jaar op die rotse is ná foto’s waarop hy alte danig in ’n fotohokkie op ’n partytjie in New Orleans was met Margot Robbie (23), sy medester in die fliek Focus, het verlede Donderdag gesê hy wil sy gesin uitbrei.

“Lekker verjaar, Willow!” het die ster van After Earth op sy Facebook-blad geskryf. “Ons baba is vandag 13. Daar is nie meer kleingoed in die huis nie . . . ek dink ek gaan vanaand vir Jada swanger maak.”

Die paartjie se vriende het gerugte afgemaak dat hulle uiteen is en hou vol dit gaan “goed” met die twee. Iemand in die binnekring het die foto’s van Will en Margot afgemaak en gesê: “Daar was ’n fotohokkie op die stel wat vervaardigers vir almal gekry het. Dit was die laaste dag van verfilming en almal het foto’s geneem. Hulle het net gekgeskeer. Dis hoe Will is. Daar steek niks meer daarin nie. Alles tussen hulle (Will en Jada) gaan klopdisselboom.”

Jada (42) het vroeër vanjaar gesê dit sou baie verg vir haar om haar man te “verlaat”. “Wat kan Will doen wat sal maak dat ek hom nie meer liefhet nie? Wat sal maak dat ek hom verlaat? Ek kan aan niks dink nie. Ek is jammer. Behalwe as hy iets verkeerds aan die kinders sou doen, dan het ons ’n probleem.”