Aanhangers gis prins William van Brittanje en sy vrou wil drie kinders hê nadat verklap is hulle het drie lae van hul troukoek gehou.

William en Catherine het by tradisie gehou deur die boonste laag van hul troukoek te bêre vir die doop van hul eersteling. Prins George is op 22 Julie gebore.

Fiona Cairns, wat die yslike koek met agt lae vir die paartjie se groot dag in 2011 gebak het, het nou verklap hulle het ook die twee lae onder die boonste een gehou. Dit het gelei tot bespiegeling dat dit dalk vir die prinsie se boeties of sussies gebêre word.

Toe sy daaroor gevra is, het Fiona aan die Daily Mail gesê: “Ek weet werklik nie. Ek is nie eens seker hoe hulle die koek gebêre het nie. Dit sal reg wees as hulle een vir prins George se doop wil gebruik. Die versiersuiker sal oorgedoen moet word, maar die koek sal in dieselfde toestand as op die troudag wees.”

Fiona (57) het vertel die maak van die koek – wat 17 verskillende soorte blomme en loof ingesluit het, elk met ’n ander simboliese betekenis – was een van die moeilikste take van haar loopbaan.

Sy het vertel: “Dit was die stresvolste ding wat ek nog gedoen het. Ek het voor die tyd slapelose nagte gehad, want as jy die werk al so lank doen soos ek, weet jy wat verkeerd kan loop. Ons het vir elke moontlike probleem voorsiening gemaak – daar was selfs ’n tweede koek gereed – maar jy is steeds ’n bondel senuwees. Ek moet erken, ek het ’n paar trane gestort terwyl ons dit in Buckingham-paleis opgestel het.”

Die voltooide koek was ’n groot treffer en die egpaar het haar persoonlik gelukgewens.

Sy het bygevoeg: “William en Catherine het gesê dit het hul verwagtinge oortref, wat wonderlik was. Eindelik is al wat met troukoeke tel dat die betrokke paartjie daarmee gelukkig is.”