Durban – .

Die Centre for Rehabilitation of Wildlife (Crow), ’n organisasie sonder winsbejag, het in hul poging om borgskappe vir diere te kry, ’n borg-’n-dier-projek begin om te help met die grootmaak van vier rooijakkalsies wat in September gered is. Die twee reuntjies en twee tefies is deel van die meer as 400 beseerde en wees gelate diere wat die afgelope ses weke gered en by die Crow-sentrum opgeneem is. Suikerrietkappers het hulle op ’n plaas in die Empangeni-omgewing gewaar nadat hul lêplek ineengestort het. Die boer het eers gewag om te kyk of die ma sou terugkeer en toe het hy die plaaslike depot van Crow genader, waar hulp byderhand was. Claire Hodgkinson, Crow se direkteur, het Donderdag aan News24 gesê die organisasie is besig om hulle om die borg-’n dier-program te skaar.

"Jy betaal dus vir uitgawes, soos kos en medikasie"

“Dit behels dat jy elke maand ’n donasie inbetaal om daardie spesifieke dier se onkoste te dra. Jy betaal dus vir uitgawes, soos kos en medikasie.

“Crow verskaf borgskapsertifikate en die borg kry ook ’n bygewerkte verslag van die dier se vordering. Dit is ’n fantastiese program wat ons hier het en baie ander liefdadigheidsorganisasies begin met soortgelyke projekte.

“Dit sorg ook vir unieke en sinvolle Kersgeskenke. Baie mense doen dit as ’n gesin, as ’n enkeling – selfs maatskappye raak betrokke.”

‘Hulle groei vinnig’

Volgens Hodgkinson groei die jakkalsies teen ’n “geweldig vinnige” tempo.

“Hulle het groot hoeveelhede melk gedrink en nou skakel hulle oor na vleis, wat ons sal moet verskaf. Ons doen ’n dringende beroep op mense, want hul onderhoud is nogal duur.”

Hodgkinson het bygevoeg hoewel die jakkalsies nie skaars is nie, is hulle koms ’n redelik ongewone gebeurtenis vir Crow.

“Ons kry nie dikwels jakkalsies in nie. Ons het wel een keer vantevore van hulle gekry. Een van die uitdagings ten opsigte van hierdie diere is verlies van habitat.

“Hulle is roofdiere wat gewoonlik op die meer afgeleë plattelandse gebiede bly. Daar kom konflik tussen hulle en die boere, aangesien hulle hoenders en ander plaasdiere vang.”

- As jy dit oorweeg om een van dié jakkalsies of enige ander dier te borg, besoek crowkzn.co.za.

News24

Bron: News 24