1. Samsung stel twee weergawes van hul nuwe slimfoon bekend – die Galaxy S6 en die duurder Galaxy S6 Edge met ’n gekurfde skerm. Selfs wanneer die Edge op sy gesig lê, kan jy nog steeds sien wie jou bel of ‘n boodskap stuur.
  2. Herlaaityd vir altwee slimfone is aansienlik korter. Binne ’n halfuur is die foon 50% gelaai. Samsung beweer dis die helfte van die tyd wat dit ‘n iPhone sou neem om dieselfde kapasiteit te bereik.
  3. Die fone is egter nie waterbestand soos die S5 nie en het ook nie mikroSD kaarte vir ekstra stoorplek nie. Batterye kan ook nie vervang word nie. Die klem het duidelik na die ontwerp en voorkoms van die foon verskuif.
  4. Koebaai plastiek! Die fone word nou eerder van glas en metaal gemaak en party kritici bestempel dit as die mooiste fone nog.
  5. Die voorste kamera is opgegradeer na vyf megapixels (ons vermoed vir beter selfies) terwyl die kamera aan die agterkant nes die S5 ’n 16 megapixel-kamera het. Beide kameras is aangepas om vinniger foto’s te neem en beter gehalte foto’s onder swak-beligte toestande te neem.
  6. Die skerm spog met beter resolusie en kan tot 20% duideliker vertoon.
  7. Daar is ook ’n nuwe informasiestroom (IS) wat heeltyd op die skerm die tyd, weer en ander persoonlik-gekose kennisgewings vertoon.
  8. Nes met die iPhone, kan jy nou jou vingerafdruk gebruik om sekere mobiele betalings te maak.
  9. Samsung se twee nuwe spogprodukte sal van April 2015 in Suid-Afrika beskikbaar wees.
  10. Die pryse is nog nie bekend nie.

Bronne: techradar.com, marketwatch.com, theverge.com, bbc.com