Vra maar vir jou hoërskoolkind van watter vak hy of sy die minste hou. Die antwoord sal waarskynlik wees: wiskunde.

Vyf jaar gelede het baie leerders dus ’n sug van verligting geslaak toe hulle van gr. 10 af wiskundige geletterdheid in plaas van wiskunde kon begin neem. Dit dek basiese wiskunde vir gebruik in die daaglikse lewe en word algemeen beskou as aansienlik makliker as wiskunde. Sedertdien het die getal wiskundeleerders in ons land aansienlik begin afneem.

Is wiskunde dus rêrig net ’n vak vir die heel, heel slimmes? Nie as ’n mens hoor wat by ’n doodgewone hoërskool soos die Hoërskool Zwelibanzi in Durban aan die gebeur is nie!

Die hoof, Sibusiso Maseko, het wiskundige geletterdheid twee jaar lank op die proef gestel en toe besluit om dit uit te faseer.

Hy glo enige leerder kan in wiskunde uitblink. En die gevolge? Sy leerders van gr. 10 tot 12 kry elke jaar A’s en B’s vir wiskunde. Dit maak vir hulle die deur oop om eendag dokters, ingenieurs, wetenskaplikes en rekenmeesters te word.

Sibusiso glo wiskunde moet al opsie in Suid-Afrikaanse skole wees. Hy sê al wat ons met wiskundige geletterdheid bereik, is om kinders se vermoë te onderskat en hul loopbaankeuses later ernstig te beperk.

Die argument vir Wiskunde

Prof. Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het laat verlede jaar ’n opskudding veroorsaak toe hy gesê het wiskundige geletterdheid is ’n euwel, en bedoel vir “onderwysers wat te lui is om leerders wiskunde te leer”.

Sibusiso sê hy en sy onderwysers wil nie leerders oplewer wat sukkel wanneer hulle die regte lewe ná skool moet betree nie. “Ek weet van skole wat A’s in wiskundige geletterdheid behaal en met hul hoë slaagsyfer spog, maar hul leerders kry nie keuring vir universiteitskursusse wat wiskunde vereis nie en dikwels weet hulle dit nie eens vooraf nie,’’ voeg hy by.

Hy en sy onderwysers is trots daarop dat hulle leerders lewer wat verder studeer en dan vir internskappe by ondernemings opgeraap word. Maar dit kos harde werk van leerders én onderwysers.

In die tweede semester by Zwelibanzi bied onderwysers drie uur per dag opsionele ekstra wiskundeklasse vir gr. 12-leerders aan. Hul enigste beloning vir dié liefdestaak is die braai wat Sibusiso elke jaar vir hulle hou om dankie te sê. “Die vraag is nie of kinders wiskunde kan doen nie, maar of hulle bereid is om genoeg moeite te doen,” sê hy.

Ouers moet ook daarteen waak om hul kinders die skrik op die lyf te jaag oor wiskunde omdat hulle dalk op hul dag daarmee gesukkel het, waarsku hy.

“Die wêreld het mense nodig wat kan dink soos wiskunde jou leer dink en ons moenie ons kinders hier onderskat nie.”

Jonathan stem saam.“Ek is volkome oortuig daarvan dat hierdie verwaterde wiskunde  ingestel is om te vergoed vir die feit dat ons in hierdie land nie daarin slaag om wiskunde behoorlik te onderrig nie.

“Ons moet die ware probleem regstel en beter toegeruste onderwysers kry wat wiskunde goed kan onderrig, die hele pad van die laer grade af.” Hy was geskok toe hy onlangs van ’n skool hoor waar leerders en onderwysers gevra is om dieselfde wiskundetoets te doen om vas te stel hoekom hul slaagsyfer so swak is – en toe vaar die kinders beter as party van die onderwysers!

“Die skoolstelsel laat ons kinders in die steek en dit het niks met die kinders se intellektuele vermoë te doen nie,” sê Jonathan. Argumente dat wiskunde bloot te moeilik vir kinders is, oortuig hom glad nie.

“Hoekom kry mnr. Maseko dit reg? Ek kan aan elke denkbare verskoning dink waarom ek byvoorbeeld nie wiskunde moes geneem het nie, maar ek het onderwysers gehad wat vir my gesê het ek kan en hulle het moeite gedoen om my te help.”

Volgens ’n verslag van 2008 van die navorsingsonderneming Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming kan enige leerder wat bo 72 persent vir wiskundige geletterdheid behaal, minstens 50 persent vir wiskunde kry.

Die bevinding was dat tienduisende kandidate wat wiskundige geletterdheid geneem het, wiskunde kon geslaag het. Baie skole voldoen nie aan die minimum standaarde vir wiskunde- en wetenskaponderrig nie.

Die potensiaal van miljoene jong Suid Afrikaners word daardeur ondermyn en die land se ontwikkeling word belemmer, sê prof. Charles Simkins, die skrywer van die verslag.

Die argument vir wiskundige geletterdheid

Aan die ander kant is daar onderwysers wat wiskundige geletterdheid in skole net so vurig verdedig. Hulle voer aan wiskunde was nie in die ou skoolstelsel verpligtend nie en leerders het nou ten minste die opsie om kennis van wiskunde op te doen in die vorm van wiskundige geletterdheid.

“Danksy wiskundige geletterdheid kry kinders wat voorheen gesukkel het om in die klas aandag te gee omdat hulle geglo het hulle kan nie wiskunde doen nie of stadig daarmee was, nou meer selfvertroue met wiskunde,” sê Maria Schmidt, ’n wiskundeonderwyseres by die privaat skool Curro in Durbanville, Kaapstad.

“In vandag se samelewing is dit noodsaaklik dat jy syferslim is en jy hoef nie ’n uitstekende wiskundige te wees om dit reg te kry nie,” sê Maggie Verster, ’n senior konsultant by ’n onderwysorganisasie,

The Commonwealth of Learning, in Gauteng en fasiliteerder van die aanlyngemeenskap vir wiskundigegeletterdheidsonderwysers.

Hier is wat van hulle te sê gehad het oor die vak wat hulle onderrig:

  • “Ek het al vir baie leerders klas gegee wat ondanks baie moeite, vasberadenheid en ywer eenvoudig nie wiskunde verstaan nie. Hulle is gefrustreerd, ontwikkel ’n swak selfbeeld en begin die wiskundeklas haat. Ek voel dit is ’n belediging vir hierdie leerders om te hoor hulle kan nie wiskunde doen nie omdat hulle nie hard genoeg probeer nie.”

  • “Jy moenie wiskundige geletterdheid neem as jy ’n B.Com.- of ’n B.Sc.-graad wil behaal nie. Die meeste leerders wat wiskundige geletterdheid kies, het nie die aanleg om op wetenskaplike gebied of in die handel sukses te behaal nie. Wiskundige geletterdheid beperk jou toegang tot sekere universiteitskursusse,maar universiteite is nie al plekke wat onderrig bied nie.”

  • “Leerders wat wiskundige geletterdheid neem, voel positief oor hulself. Hulle kry vir die eerste keer in hul lewe meer as 60 persent!”

  • “Ek het nou die dag in die winkel ’n oudleerder raakgeloop. Sy het wiskundige geletterdheid op skool geneem en besit nou haar eie onderneming in die skoonheidsbedryf en vaar goed. Sy het vir my gesê wiskundige geletterdheid het haar baie gehelp om die onderneming op die been te kry.”

  • “Ek het van die onderwysers getoets met wat my leerders in wiskundige geletterdheid leer – hoe om hul belastingvorm in te vul, jou waterrekening te verstaan, jou begroting op te stel en wat reswaarde beteken as jy ’n motor verkoop. Die meeste van hulle het dit nie geweet nie en dit is die goed wat wiskundige geletterdheid jou leer.”

  • ’n Onderwyser het vertel sowat 80 persent van sy leerders in die afgelope ses jaar is nie universiteit toe nie, maar het ’n ambag aangeleer of ’n entrepreneur geword.

Studie-opsies

As jy by die Universiteit van die Witwatersrand aansoek doen om grade in die volgende fakulteite, sal jy matriekwiskunde nodig hê:

  • Ingenieurswese en die beboude omgewing (insluitend konstruksiebestuur en bourekenkunde)
  • Wetenskap (insluitend rekenaarwetenskap, statistiek en aktuariële wetenskappe, fisika en chemie, argeologie, biologie en omgewingswetenskappe)
  • Gesondheidswetenskap (insluitend medies, tandheelkunde, aptekerswese)
  • Handel (insluitend politiek, filosofie en ekonomie)

’n Leerder met wiskundige geletterdheid sal wel in aanmerking kom vir:

  • ’n B.A.-graad (insluitend skone kunste, musiek, drama, uitvoerende en visuele kunste)
  • B.A. Regte
  • B.A. Opvoedkunde

Met wiskundige geletterdheid sal jy waarskynlik vir ’n ambag soos motorwerktuigkunde, ketelmakery of paneelkloppery aanvaar word. Maar as jy by ’n universiteit van tegnologie kursusse in ingenieurswese (elektries, siviel, meganies of argitekstekeninge) wil volg, sal jy wiskunde nodig hê.

- Kim van Reizig