Reeva Rebecca Steenkamp se kêrel, die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, het haar verlede jaar op Valentynsdag doodgeskiet in sy huis in ’n Pretoriase veiligheidskompleks.

'Haar hart was op die regte plek; Reeva was spesiaal.'

“Haar hart was op die regte plek; Reeva was spesiaal,” het haar vriendin, die gewese Mej. SA Nicole Flint, aan Sapa gesê.

Reeva sou verlede Augustus 30 geword het. Sy en Oscar het in 2012 begin uitgaan.

Die fyngeboude, blonde model wou graag ’n advokaat word en wou haar beywer vir die regte van vroue en kinders. Reeva het geweld teen vroue teengestaan en wou ’n skuiling vir mishandelde vroue en kinders oprig, vertel Nicole.

Reeva en Oscar het mekaar op glansgeleenthede in Johannesburg leer ken. Die pragtige blondekop en die sjarmante atleet is dikwels saam opgemerk op deftige partytjies.

reeva

Nicole vertel: “Reeva was gevat en kon jou histeries laat lag. Maak nie saak of sy op ’n partytjie was of by die huis ontspan het nie, Reeva was altyd dieselfde. Sy was altyd die wonderlike vriendin wat ek leer ken het.”

In 2012 was Reeva een van die bekendes wat deur die sosiale vlinder Mika Stefano byeengebring is vir die viering van Spirit Day, ’n wêreldwye veldtog teen die afknouery van gays. Reeva was ook betrokke by ander liefdadigheidswerk. Reeva se eerste verskyning in ’n werklikheidsprogram was in Tropika Island of Treasure, wat in 2013 in Jamaika verfilm is. Dis enkele dae ná haar dood uitgesaai. Sy was ook ’n rondreisende aanbieder van Fashion TV in Suid-Afrika en het opgetree in talle TV-advertensies.

'Sy het so baie gedoen en sou nog baie vermag het.'

“Sy het so baie gedoen en sou nog baie vermag het,” sê Nicole.

Jane Cilliers, woordvoerder van die Ice-modelagentskap in Johannesburg by wie Reeva ingeskryf was, vertel: “Sy was gek oor die regte en wou ’n advokaat word. Dit het in 2013 gelyk asof al haar drome bewaarheid sou word.

“Sy sou in die week ná haar dood leerders toegespreek het oor geweld en vrouemishandeling.”

Die eersdaagse moordverhoor sal hartseer herinneringe oor haar dood terugbring.

“Haar familie en geliefdes sal haar dood herbeleef,” sê Jane. “Geen ouer moet sy kind begrawe nie.”

Op Valentynsdag ’n jaar ná haar dood het die personeel van die modelagentskap byeengekom sodat hulle die “gelukkige en liefdevolle” Reeva kon onthou, het sy bygevoeg.

Daily Maverick het Reeva ná haar dood aangewys as 2013 se mens van die jaar. Sy het die titel gedeel met Anene Booysen, die Bredasdorpse tiener wat wreed verkrag en aangerand is, en op 2 Februarie 2013 in ’n hospitaal oorlede is.

Daily Maverick het geskryf: “Kom ons onthou Reeva en Anene en al die tallose ander vroue wie se dood en verkragting as so onnoemenswaardig beskou word dat geen koerant daaroor berig nie.

“Kom ons onthou hulle as mense en nie net as ’n statistiek van ons nasionale skande nie.”

  • Reeva is op 19 Augustus 1983 in Kaapstad gebore. Haar ouers is Barry en June Steenkamp.
  • Die gesin het Port Elizabeth toe verhuis toe sy ’n kind was. Sy was daar op skool en universiteit.
  • Reeva het in 2005 ’n graad in die regte behaal aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.
  • Op 14 het Reeva modelwerk begin doen.
  • Sy was in 2004 ’n finalis in die Weekend Post se Faces of the Future-wedstryd en in 2005 in The Herald se Mej. Port Elizabeth-wedstryd.
  • Reeva het as model verskyn in FHM en was ook op dié tydskrif se voorblad.
  • Sy was Avon se eerste model in Suid-Afrika. Die mooi blondine het ook juweliersware gemodelleer vir Sivana Diamonds.
'Ons wil net afsluiting hê en weet ons dogter het nie gely op daardie tragiese Valentynsdag nie.'

Dié idilliese prentjie is verlede jaar in Februarie verpletter toe Oscar haar in sy badkamer doodskiet. Hy ontken nie dat hy haar doodgeskiet het nie, maar sê dit was ’n ongeluk; hy het gedink sy is ’n inbreker.

Na bewering het Oscar se prokureurs en die Steenkamps se verteenwoordigers verlede Augustus begin onderhandel oor ’n groot kontantbetaling as vergoeding vir haar dood.

Reeva het haar ouers geldelik bygestaan.

Reeva is op 19 Februarie 2013 veras tydens ’n klein seremonie in Port Elizabeth.

Die moordverhoor begin op 3 Maart in die Pretoriase hooggeregshof. June het al gesê sy sal die verhoor bywoon.

“Ons wil net afsluiting hê en weet ons dogter het nie gely op daardie tragiese Valentynsdag nie,” sê Reeva se ouers.

sapalogo

az