Wat verlies aan slaap betref ná die geboorte van ’n baba, trek ma’s beslis aan die kortste ent.

[caption id="attachment_161941" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Kenners van die Georgia Southern University in Amerika het onderhoude gevoer met 5 805 mense van 45 jaar en jonger oor hul slaapgewoontes en tot die gevolgtrekking gekom sewe tot nege uur slaap per nag is die beste – en minder as ses is te min.

By die vroue was daar ’n duidelike verband tussen ouerskap en ’n slegte nagrus – minder as die helfte van die ma’s het gesê hulle kry minstens sewe uur slaap, maar amper twee derdes van kinderlose vroue kry gereeld soveel nagrus.

Wat die mans betref, was daar geen verskil tussen die pa’s en dié sonder kinders nie.

Daar is voorts bevind dat ’n ma se kans op onderbroke slaap met die helfte toeneem met elke kind wat sy het.

Dr. Kelly Sullivan, die studieleier, het gesê: “Ek dink hierdie bevindings steun moontlik die vroue wat sê hulle voel uitgeput.

“In ons ondersoek het ons bevind dat hulle nie net te min slaap kry nie; hulle sê ook hulle voel heeldag moeg.”

Nog faktore, soos oefening en huwelikstaat, het geen uitwerking op slaap gehad nie.

Kelly het bygevoeg dat “biologiese oorwegings” eie aan vroue, byvoorbeeld die invloed van hormone, moontlik ook ’n rol kan speel.

Volgens die navorsers voel vroue met kinders ook moeër as dié sonder kinders. Ma’s het aangedui hulle voel 14 dae per maand moeg, terwyl dié sonder kinders 11 dae per maand moeg was.

“Genoeg slaap is ’n sleutelkomponent vir algemene gesondheid en dit kan ’n invloed uitoefen op die hart, brein en gewig. Dit is belangrik om uit te vind wat mense weerhou van die rus wat hulle nodig het sodat ons hulle kan help om werk te maak van beter gesondheid,” het Kelly gesê.

“Dis belangrik om moeite te doen om gesonde slaap te kry deur byvoorbeeld minder kafeïen in te neem, ’n mens se slaapkamer behoorlik te verdonker en blootstelling aan helder skerms, soos slimfone, tablette, rekenaars en TV’s, kort voor slaaptyd te beperk.”

Die bevindings van die navorsing sal in April vanjaar op die jaarvergadering van die Amerikaanse Akademie van Neurologie voorgelê word.

© Cover Media