Die ANC gaan moet besluit oor optrede teen Pravin Gordhan, minister van finansies, na hy van bedrog aangekla is.

So het Khusela Sangoni, ANC-woordvoerder, by navraag aan Huisgenoot gesê. Die ANC het in 2013 by sy nasionale konferensie ‘n besluit geneem dat die regerende party “dringend moet optree” teen ANC-lede en -ampsdraers wat van misdrywe beskuldig word sodat die party se reputasie beskerm word.

“Die ANC het die resolusie so aanvaar en ons sal moet dink oor hoe ons hierdie kwessie gaan hanteer. Ons sal bespreek watter optrede teen Gordhan nodig is, maar daar is geen besluit geneem dat hy sy pos moet ontruim hangende die ondersoek nie.”

Lees ook: Hier is die klagte teen ons minister van finansies

Die ANC het intussen in ‘n verklaring gesê Gordhan moet toelaat dat die gereg sy gang gaan.

“Kameraad Gordhan moet saam saamwerk sodat ons hierdie kwessie agter ons kan plaas. Die beginsel dat iemand onskuldig is tot hy skuldig bevind word is heilig en die ANC het volle vertroue in ons regbank as die finale arbiter.”

Sangoni het aan Huisgenoot gesê die regerende party is “diep bekommerd” oor die impak wat voortslepende sage rondom Gordhan op die ekonomie het.

Lees ook: Kyk wat maak die rand ná skokaankondiging oor Pravin Gordhan

David Maynier, DA-LP en woordvoerder oor finansies, sê die besluit om Gordhan aan te kla is “rampspoedig”.

“Ons hoop daar sal geen vertraging wees nie en dat die saak vinnig hof toe sal gaan. Feit is, soos adj.pres. Cyril Ramaphosa sê: hierdie regering is in ‘n oorlog met homself gewikkel en is besig om enige vooruitsig van ekonomiese groei en werkskepping te vernietig.”

Ook dr. Pieter Mulder, VF+-leier, het die besluit veroordeel en gesê dit dui op ‘n algehele gebrek aan leierskap.

Prof. Raymond Parsons van die besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit (NWU) sê die besluit gaan verreikende gevolge vir ons ekonomie hê.

“Indien ons kredietgradering afwaarts aangepas word gaan dit duurder word om geld te leen en sal dit ekonomiese groei en werkskepping knou.”