Ondanks gerugte dat Jay Z Kanye West se versoek om sy strooijonker te wees van die hand gewys het, gaan die rapper luidens berigte daar wees vir sy beste vriend se groot dag.

Jay gaan Kanye se strooijonker wees en die trouring aangee wanneer hy môre met die werklikheidster Kim Kardashian trou by Forte de Belvedere in Florence, Italië.

’n Familielid het aan MailOnline.com bevestig dat Jay en sy vrou, Beyoncé Knowles, die troue gaan bywoon. “Beyoncé moes op die nippertjie nog daaroor dink. Sy wou nie eintlik gaan nie, maar ek dink Jay Z is die strooijonker; daarom het hy gevra sy moet daar wees.”

Daar word uitgesien na die paartjie se aankoms in Parys, waar die trouvieringe vandag begin, voor gaste na Italië gevlieg word vir môre se huweliksbevestiging.

Nog bekendes op die gastelys:

  • Die sanger John Legend en sy vrou Chrissy Teigen
  • Die tennislegende Serena Williams
  • Die rapper Q-Tip
  • Die rapper Tyga en sy meisie Blac Chyna
  • Die basketbalspeler Carmelo Anthony en sy vrou, die werklikheidster La La Anthony
  • Die voormalige basketbalspeler Scottie Pippen en sy vrou, Larsa Pippen, ’n oudmodel en voormalige ster van The Real Housewives of Miami.

- BangshowBiz en Petro-Anne Vlok

EKSTRA BRONNE: usmagazine.com