Mkhwebane het sonder twyfel groot skoene om vol te staan, maar die komitee wat uit ’n lys van meer as 70 aansoekers op haar besluit het, het duidelik vertroue in haar vermoëns.

Makhosi Khoza, leier van die ad hoc-komitee wat op ’n nuwe OB moes besluit, het vandag by die parlement in Kaapstad die besluitneming gelei. “Al vyf die mense op die kortlys was goeie kandidate en dit was ’n baie moeilike keuse om te maak,” het sy gesê. Mkhwebane het al voorheen nou met die OB saamgewerk, het sy in haar onderhoud om dié gesogte pos gesê. Sy het heelwat menseregte-ervaring en was voorheen ’n direkteur by binnelandse sake. Sy werk tans as ontleder by die staatsveiligheidsagentskap. Sy moes met regters Siraj Desai en Sharise Weiner sowel as adv. Muvhango Lukhaimane en prof. Bongani Majola meeding om die gesogte pos. Sy was die jongste mens op die kortlys.
“Terwyl ek vir die OB se kantoor gewerk het, het ek daarin geslaag om die Gauteng-kantoor te vestig en met verskeie munisipale kantore rondom Soweto geskakel om seker te maak klinieke word daar oopgemaak,” het sy tydens haar onderhoud gesê. Mkhwebane het meer as 20 jaar ervaring as advokaat, veral wat menseregte betref. Sy het ook tydens haar onderhoud gesê die OB moet “saam met” die regering werk en demokrasie en die grondwet ondersteun. “Sy is ’n vrou met waagmoed,” het heelwat van die komiteelede gesê en Mkhwebane geloof vir haar goeie kommunikasievaardighede en goeie onderhoud.
Daar was wel kommer omdat sy pres. Jacob Zuma glo steun, maar heelwat komiteelede het gesê dit is blote gerugte en dat hulle haar ondanks dié bewering steeds steun. Madonsela se termyn eindig middel Oktober en Mkhwebane sal vir ’n nie-hernubare termyn van sewe jaar OB wees. Die komitee se benoeming moet nou voor 31 Augustus aangehoor word deur die nasionale vergadering, waar 60 persent van die lede ten gunste van Mkhwebane moet stem. Wie was die ander vier op die kortlys? Hy was een van die meer omstrede keuses om die leisels by Madonsela oor te neem, maar regter Siraj Desai was vol vertroue oor sy vermoëns. Dié Kaapse hooggeregshofregter het in 2008 Taliep Petersen se vrou, Najwa, skuldig bevind aan die moord op die geliefde sanger.
Desai was ook in 2004 in die nuus nadat hy van verkragting beskuldig is, maar die saak is laat vaar. Hy was ook al betrokke in bekgevegte met sy mederegters, onder wie regter John Hlope. Oor die omstrede hofsake wat hy al moes aanhoor, het hy destyds gesê: “Dit beïnvloed nie my objektiwiteit of begrip van die wêreld rondom my nie. Hulle is dalk omstrede, maar ek bly onbesmet.” Sy praat vier tale, waaronder Afrikaans en Noord-Sotho, en is die hoof van die kantoor van die pensioenfondsbeoordelaar, maar adv. Muvhango Lukhaimane se geskiedenis is nie sonder omstredenheid nie.
Sy is in 2009 van aanranding en onwettige handel van drank beskuldig, maar het tydens haar onderhoud vir die pos beklemtoon dat sy nie aan enige van dié beskuldigings skuldig bevind is nie. Sy het onder meer ’n regsgraad en het glo onlangs haar MBA-graad voltooi. Sy het voorheen by die Staatsveiligheidsagentskap gewerk. Regter Sharise Weiner is ’n ervare advokaat wat in haar onderhoud beklemtoon het die OB is net aan die Grondwet verantwoordbaar en niemand anders nie. Sy praat Afrikaans, Engels en glo ’n bietjie Frans en het onder meer in lande soos Suid-Afrika, Lesotho en Engeland toelating as advokaat.
Tydens haar studentejare in die 1970’s was sy ’n anti-apartheidsaktivis en sy is een van die stigters van Lawyers for Human Rights, ’n plaaslike organisasie wat hom vir menseregte beywer. “Ek het ’n onwrikbare geloof in die gesag van die gereg en die manier waarop dit mense verantwoordbaar hou, veral dié in magsrolle. Ek voel sterk oor geregtigheid en sal moeite doen om enige onregte reg te stel.”

Prof. Bongani Majola het ’n regsgraad van die gesogte Harvard-universiteit in Amerika en werk vir die Verenigde Nasies se Internasionale Straftribunaal vir Rwanda. Hy het onder meer al as dosent gewerk en was een van die heel laaste benoemdes wat in die vroeë oggendure vir die belangrike pos van OB ondervra is.