As jy genoeg geld het – sommer sakke vol – en jy wil jou sin kry wanneer jou huwelik eindig, bel Laura Wasser.

Dié 41-jarige word as die staatmaker-egskeidingsprokureur in Hollywood beskou en het ’n ellelange lys bekendes as kliënte.

Angelina Jolie is haar jongste beroemde kliënt en Laura sal haar verteenwoordig wanneer sy met Brad Pitt koppe stamp om die besonderhede uit te stryk van die skeiding wat die wêreld stomgeslaan het.

Hier is sewe feite oor Laura

1. Angie is verreweg nie haar eerste beroemde kliënt nie

Van die mense wat sy al verteenwoordig het, is Drew Barrymore toe sy van Will Kopelman geskei het; Jennifer Garner tydens haar skeiding van Ben Affleck; Maria Shriver toe sy Arnold Schwarzenegger die trekpas gegee het; Denise Richards toe sy Charlie Sheen uitgeskop het; Kim Kardashian toe sy (ná 72 dae) moeg geraak het van Kris Humphries; Nick Lachey toe hy en Jessica Simpson uitmekaar is; en Johnny Depp toe hy en Amber Heard elkeen hul eie onstabiele paadjie ingeslaan het.

2. Sy is nie goedkoop nie

Sy vra sowat R11 800 per uur en vereis retensiegeld van meer as R347 000 per uur. En sy verteenwoordig selde mense wat minder as R140 miljoen werd is.

3. Sy is nie getroud nie

Sy het twee seuns by twee verskillende mans, maar het nie met een van hulle getrou nie. Sy was getroud met ’n man wat sy op universiteit ontmoet het, maar is in 1993 van hom geskei – en het haarself verteenwoordig.

“Ek weet nie dat mense bedoel was om lewenslank te paar of monogaam te wees nie,” het sy eenkeer gesê.

4. Dis geen toeval dat haar voorletters LAW spel nie

Wasser, Cooperman en Mandles, die firma in Los Angeles waarvoor sy werk, is deur haar pa, Dennis Wasser, begin. Laura het in 2010 aan CNN gesê haar pa het haar Laura Allison Wasser genoem sodat haar voorletters LAW sou spel. “My ma wou my Rebecca genoem het,” het sy gesê.

5. Sy deel die bevele uit by haar regsfirma

Toe sy op 26 jaar by haar pa se firma aansluit, het sy aangedring die kantore verskuif van ’n oninspirerende toringgebou in Los Angeles na die byderwetse Wes-Hollywood. “Sy wou dit meer funky maak,” het Dennis aan Bloomberg gesê.

Laura se kantoor het ’n pelsmat en ’n koffietafel met ’n goue handgranaat as sierstuk. ’n Geraamde seildoek met die woorde “The End” daarop oorheers die een muur.

6. Sy staan as die Disso Queen bekend

Soos in die ontbinding (dissolution in Engels) van huwelike. Goeiste.

7. Sy is ook ’n skrywer

In 2013 het sy die boek It Doesn’t Have to Be That Way: How to Divorce Without Destroying Your Family or Bankrupting Yourself gepubliseer. En, ja, dit was ’n blitsverkoper.

Deur: Nicola Whitfield