DNA-toetse het gewys dat dié sigeuners nie die ouers van die dogtertjie is nie en hulle vermoed sy is sowat vier jaar oud. Die polisie het ’n internasionale soektog van stapel gestuur om die biologiese ouers van dié meisie op te spoor.

’n Welsynsorganisasie in Athene sorg tans vir haar.

Die paartjie wat daarvan aangekla word dat hulle die kind ontvoer het, het glo verskillende identiteite aangeneem om 14 kinders in drie verskillende stede te registreer van wie slegs vier tans geïdentifiseer is.

“Ons het hier met ’n baie ongewone saak te doen,” het die plaaslike polisiehoof lt. genl. Vassilis Halatsis gesê. “Gewoonlik meld ouers ’n kind as vermis aan en dan soek ons die kind, maar nou het ons die kind en ons soek haar ouers.”

Sover, het mense uit Frankryk, Pole en Amerika al die polisie gebel in verband met dié dogtertjie. “Ons sal elke unieke geval bestudeer om te kyk of die ouderdomme ongeveer dieselfde is en of die gelaatstrekke ooreenstem. DNA-toetse sal ook gedoen word,” het Vassilis gesê. – SAPA