Murphy se wet, oftewel Murphy’s Law soos ons Engelse vriende daarna verwys, is altyd die gewillige sondaar. Maar wie is of was Murphy en hoekom kry hy die skuld vir alles?

Murphy se wet (“as iets kan skeefloop, sal dit”) het glo in 1949 op die Edwards-lugmagbasis sy beslag gekry. En dit word verbind aan ’n regte mens, ene kapt. Edward A. Murphy (1918-’90).

Kyk: Vrou wat met vals huweliksaanbod uitgevang is, neem soete wraak op kêrel

Edward was ’n ingenieur wat by die Lugmagprojek MX981 betrokke was. Die projek het te doene gehad met die impak en swaartekrag wat ’n mens kan hanteer wanneer skielike spoedvermindering tydens ’n botsing plaasvind.

murphy brug

Nou begin jy seker glo dié kaptein het drooggemaak; tog was dit nie hy nie. Dit was wel hy wat glo die onsterflike woorde geuiter het.

’n Tegnikus het iewers die bedrading van ’n transduktor verfomfaai en die kaptein het sy ergernis daaroor uitgespreek: “As daar ’n manier is waarop iets verkeerd gedoen kan word, sal hy (die tegnikus) dit vind.”

murphy boek

Die projekbestuurder het ’n lys “wette” bygehou en dié een daarby gevoeg . . . en ’n naam gegee.

Die beginsel as sodanig was nie nuut nie, maar hy het dit net beter en korter gestel.

Die wiskundige Augustus de Morgan het op 23 Junie 1866 geskryf: “Die eerste eksperiment illustreer reeds die waarheid van die teorie, bevestig deur praktyk: Wat ook al kan gebeur, sal gebeur as ons genoeg proeflopies doen.”

murphy trein

’n Ingenieur, Alfred Holt, het glo in 1877 op ’n vergadering gesê: “Daar is bevind dat alles wat ter see skeef kan loop, gewoonlik vroeër of later wel sal skeefloop.”

Kyk: Adele bak ’n skreeusnaakse poets op niksvermoedende winkelassistente

Die goëlkunstenaar Adam Hull Shirk het ook sy ervaring van die lastige Murphy gehad nog voor dit ’n naam gekry het. Sy bevinding was dat “tydens ’n goëltoertjie nege uit 10 goed wat kan skeefloop, gewoonlik sal verkeerd gaan.”

murphy main

Eindelik was dit wel die kontrakteur se lysie wette en ’n lugmagdokter se perskonferensie wat Murphy se wet verewig het.

Die dokter, John Paul Stapp, het ná ’n proeflopie van kapt. Murphy se Projek MX981 die goeie veiligheidsrekord van die projek toegeskryf aan hul vaste geloof in “Murphy’s Law” en hul vasbeslote pogings om dit te vermy.

Só lyk dit wanneer sake regtig lelik skeefloop!

Kort voor lank het ruimtevaartingenieurs dié term aangeneem. Weldra het Murphy se wet in tydskrifte en in die nuus opgeduik en ná 57 jaar geld daardie wet steeds . . .

Maar ai, die menslike element gun Murphy ook hope kanse om te verbrou!

Vir diegene wat meer optimisties oor blapse voel, is daar hul eie “wet”: Yhprum se wet, die agterstevoor om spelling van Murphy. Dit lui: “Alles wat klopdisselboom kan verloop, sal.”

— Annelene Oberholzer

Bronne: murphys-laws.com, wikipedia.com, people.howstuffworks.com

Ook op Huisgenoot.com

Gwyneth Paltrow se pynlike velsorgroetine

Kyk net wat het hierdie hond aangevang toe hy alleen tuis gelos word!

Hierdie plusgrootte-model het die volmaakte antwoord vir mense wat ander se lyf afkraak

Kyk: Kan jy die versteekte prentjie binne dié rooi kol sien?