Hy staan dalk net 120 cm lank in sy sokkies, maar ná ’n paar minute in Themba Ntuli, “die klein seuntjie” in Vodacom se jongste advertensie se geselskap, vergeet jy van sy lengte en sien net ’n spontane en selfversekerde jong man voor jou.

Hy is in ’n spraaksame bui wanneer ons hom by ’n restaurant in Auckland, Johannesburg ontmoet. Hy het reeds die helfte van die mense in die restaurant wat hom van die advertensie herken, met sy sjarme om sy pinkie gedraai.

Hoe hanteer hy al die aandag van vreemdelinge sedert hy in die Vodacom-advertensie verskyn het? “Ek gee nie om nie, solank hulle dit nie te ver vat nie,” sê hy met ’n laggie.

“Ek is al gewoond daaraan. Dit het al begin toe ek in graad 11 in Rhythm City was. Wanneer mense my ontmoet, kyk hulle gou verby die lengte en leer ken my vir wie ek is.”

Die advertensie het hom nou wel aan ’n nuwe gehoor bekendgestel, maar die 20-jarige van Vosloorus in Johannesburg is nie ’n nuwe gesig in die plaaslike vermaakbedryf nie.

Behalwe vir sy werk in talle TV- en radio-advertensies vir onder meer Sunlight en SABC2, het hy ook verskyn in Rhythm City, Soul Buddyz en Shaka Zulu The Musical om maar ’n paar te noem.

“Ek het begin toneelspeel toe ek by die Primrose primêre skool was. Ek het Lord Farquaad in ’n skoolopvoering van Shrek gespeel en dis toe dat die toneelgogga my gebyt het.

“Om op daai verhoog te wees, het my die selfvertroue en trots gegee wat ek nie voorheen gehad het nie. Dit het my gehelp om uit my dop te kruip.”

Themba is deesdae glad nie meer die skaam seuntjie wat 10 jaar gelede oor sy lengte geterg is nie. “Dis hartseer, maar waar – kinders sal altyd terg as hulle iets het om jou oor te terg. Ek het waarskynlik ander kinders ook geterg, maar nie soveel as wat mense my kleintyd geterg het nie.”

Ek moet my ouers bedank: 

Themba sê dis te danke aan sy ouers Kenneth en Nokuthula Ntuli dat hy vandag so ’n plat-op-die-aarde en verantwoordelike mens is. Anders as ander bekendes van sy ouderdom, hang Themba nie in klubs en kroeë rond nie. Hy verkies eerder om sy tyd in die kerk te spandeer.

“My ouers is baie godsdienstig. Hulle het respek, dissipline en ’n liefde vir God by my en my broers ingeboesem.

“Hulle het die feit dat ek nie langer sal groei nie reeds aanvaar. Daar is niks fout met my nie; ek is heeltemal gesond, net ’n bietjie korter as meeste mense. Ek het twee jonger broers, Zathemba (17) en Msizi (15), wat langer as ek is.

“Dis nie regerverdig nie, maar nou ja, ek het vrede daarmee gemaak. Ek weet my ouers is baie trots op my. As die eersgebore seun probeer ek ’n goeie voorbeeld vir my broers stel.”

Uitdagings maak my sterker: 

Dis duidelik dat die vele probleme wat Themba al in die gesig moes staar, ’n seëning eerder as ’n vloek was. Dit het hom gehelp om die man te word wat hy vandag is.

Al die uitdagings het hom gemotiveer om sukses te behaal, sê hy. Danksy sy loopbaan kon hy bekostig om sy eie universiteitsgeld te betaal. “My ouers se werk is om na my broers om te sien. Ek kan finansieel na myself kyk. Ek gaan steeds huis toe wanneer ek kan, maar is meeste van die tyd in Aucklandpark omdat ek hier skoolgaan.”

Themba is besig met sy tweede jaar by die Afrika-akademie vir rolprentwese en drama. Hy droom van rolprente maak en tel Quentin Tarantino, Steven Spielberg en Christopher Nolan onder sy gunsteling-regisseurs.

“Ek wens ek het Inception (Christopher Nolan) gemaak. Die kinematografie in daai fliek is ongelooflik. Ek is mal oor al Steven Spielberg se flieks. En op eie bodem is ek mal oor Amy Allais en Amanda Lane.

“Ek het saam met Amy gewerk toe ons die Vodacom-advertensie gemaak het en dit was hope pret om saam met haar te werk. Sy het soveel energie,” sê hy.

Rolprentwese:

“Een van my hoërskoolonderwysers het voorgestel dat ek dit oorweeg om rolprentwese te studeer, omdat hy gedink het ek is ’n gebore akteur en het ’n oog vir talent,” laat hoor hy trots.

“Rolprentskool is moeilik, maar ek wil soveel as wat ek kan leer oor wat agter die skerms aangaan. Ons moet vanjaar vyf flieks van vyf minute lank maak en dis nogal ’n uitdaging, maar ek sien uit daarna.

“Ek skryf ook draaiboeke en dis fantasties, want dit gee my ’n platform om my idees op papier te sit. Ek is mal oor die rolprentwese omdat dit jou die kans gee om die wêreld uit ’n ander oogpunt te sien.”

En moenie vir ’n oomblik dink sy lengte staan in die pad van uitgaan met meisies nie.

Themba verseker ons dit is glad nie die geval nie. “Kyk, jy kry daai meisies wat sê hulle wil nie met kort ouens uitgaan nie, maar dis hulle verlies. Om met iemand uit te gaan, gaan daaroor om te kan gesels en ’n band te vorm saam met die persoon wat by jou is,” sê hy.

“Ek het buitendien nog nooit gesukkel met soen nie. My meisie kan oorbuig as sy my môre of totsiens soen en as dit nie werk nie, kan ons altyd ’n podium kry waarop ek kan staan,” sê hy met ’n laggie.

Hy is egter op die oomblik ’n enkelloper. “’n Meisie verg baie tyd en aandag, en dis iets wat het nie op die oomblik het nie. Ek konsentreer op die oomblik daarop om vir Themba lief te hê,” laat hoor hy ernstig.

En wat is volgende vir die talentvolle akteur? Wag daar enige Oscars vir beste akteur en regisseur in die toekoms?

“Ek doen nie op die oomblik iets nie, ek konsentreer ten volle op my skoolwerk. As ek nou sou toneelspel, sou dit waarskynlik my aandag afgetrek en my skoolwerk sou daaronder gely het.”

Hy lyk verbaas wanneer ons sê die onderhoud is verby. “Is dit al? Ek het nog so baie om te vertel,” sê hy ewe speelse en ontspanne as wat hy tydens die onderhoud was.

’n Gebore akteur is hy beslis.

Volg Huisgenoot op Twitter.