[caption id="attachment_88491" align="alignnone" width="620"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Suzanne Leyden (36) is ná Donderdag se voorval in ’n stabiele maar kritieke toestand in die hospitaal. Die voorval het by die kruising van William Nicol- en Sandton-rylaan gebeur. Suzanne, ’n onderwyser by die Hoërskool Sandown, was Donderdagoggend by ’n klein motorongeluk met ’n ander motor betrokke. Sy het na bewering uit haar motor geklim om die skade te ondersoek toe ’n wit bakkie haar tref en byna 20 m vêr sleep.

'Al getuie is iemand wat haar op die grond sien lê het.'

“Ons kry niemand in die hande wat ons presies kan vertel wat gebeur het nie,” het haar ouer suster, Marlize Leyden, oor die foon gesê. “Al getuie is iemand wat haar op die grond sien lê het.”

Sy is die oggend net voor seweuur in die middel van die pad aangetref, het die ER24-woordvoerder Russel Meiring gesê. Sy is op die toneel behandel en na die hospitaal vervoer.

“Na verneem word, het die voorval plaasgevind toe die vrou haar voertuig stilhou om ná ’n klein botsing met ’n ander motoris besonderhede te ruil. Die ander persoon het blykbaar weggejaag en die vrou onder die motor saamgesleep,” het Russel gesê.

Suzanne se naasbestaandes het die dag by ’n privaat hospitaal in Johannesburg deurgebring waar sy vir twee skedelfrakture en breinswelling behandel word.

Volgens paramedici het die ma van een ook ’n borsbesering opgedoen.

Marlize het gevra enigeen met ’n beskrywing van die bestuurder of hul registrasienommer moet die owerheid nader.

Wayne Minnaar, van die Johannesburgse Metropolisie, het bevestig ’n saak van tref-en-trap en roekelose en nalatige bestuur is by die Bramley-polisiekantoor geopen.

“Niemand is in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.

Enigeen met inligting oor die voorval kan die Metropolisie by 011-375-5911 bel.

Bronne: Sapa, eNCA, Netwerk24