Wie gaan die kroon dra as Suid-Afrika se volgende braaimeester? Dit is om dié gesogte titel dat 15 spanne nou sake gaan uitspook wanneer die tweede seisoen van SABC3 se gewilde kookreeks, Ultimate Braai Master, vanaand (Woensdag) om halfnege op die kassie afskop.

Kykers kan hulle regmaak vir baie spanning en opwinding die volgende 13 weke, belowe die aanbieder en boskok-ghoeroe, Justin Bonello. Die spanne word op ’n 60-dae-roete deur die land geneem waar van hulle verwag word om te kampeer en onder moeilike omstandighede in die buitelug te kook. Van die plekke wat besoek word, sluit in die Jozinidam in Noord-KwaZulu-Natal, Wakkerstroom in Mpumalanga, die sneeubedekte berge van Rhodes in die Oos-Kaap, die ruwe kuslyn van die Wildekus en die ongerepte natuurskoon van die Tsitsikammawoud. Justin voel dat daar in elke mens ’n bietjie van ’n reisiger skuil, “maar die ongelukkige waarheid is dat die skoonheid van baie plekke in die land by mense verbygaan omdat hulle net op die snelweg bly terwyl hulle na die een of ander bestemming jaag”.

Deur ver van die gebaande weë af te wyk, bring Ultimate Braai Master nou van dié plekke tot in jou sitkamer.

“Die uitdagings wat die spanne moet oorkom, is baie erger as in die eerste reeks verlede jaar,” sê Justin. “Kykers gaan op die punt van hul stoel vasgenael sit terwyl hul wonder hoe die kokke die volgende uitdaging gaan bemeester.”

Meer wil hy nie nou verklap nie. “Bly maar ingeskakel en kyk self!” sê hy.

Kassie:

Die 2013 Ultimate Braai Master-spanne bestaan uit ’n Braai Master en ’n Braai Buddy. Die spanne is as volg:

  1. Die Coal Play-span: ’n Paartjie van Kaapstad. Die Braai Master is Kate George en haar Braai Buddy is Jonno Proudfoot.
  2. Die West Coast Bro’s-span: Broers van Lambertsbaai. Die Braai Master is Etienne Gersbach en sy Braai Buddy is Hein Gersbach.
  3. Die Boerie Brothers-span: Dié paartjie van McGregor is al 16 jaar saam. Die Braai Master is Collin du Plessis en sy Braai Buddy is Matt Bronkhorst.
  4. Die Quince Cooks-span: ’n Getroude paartjie van Observatory, Kaapstad. Die Braai Master is Quenten Alberts en sy Braai Buddy is Sandy Alberts.
  5. Die Kasi Guys-span: Nefies van Ga Rankuwa in Gauteng. Die Braai Master is Martin Sebelebele en sy Braai Buddy is Ziza Masemola.
  6. Die YingYang-span: ’n Verloofde paartjie van Pretoria in Gauteng. Die Braai Master is Shaun Cavanagh en sy Braai Buddy is Samantha van Niekerk.
  7. Die Mojo-span: ’n Getroude paartjie van Johannesburg in Gauteng. Die Braai Master is Ashok Naidoo en sy Braai Buddy is Jolene Naidoo.
  8. Die GoodBetterBraai-span: ’n Langafstand-paartjie van Port Nolloth en Windhoek. Die Braai Master is Jacques Bester en sy Braai Buddy is Nadia Botha.
  9. Die Spectacular-span: Vriende van Johannesburg in Gauteng. Die Braai Master is Nonkululeko Zondo en die Braai Buddy is Lebo Thebe.
  10. Die Huiskombuis Boys-span: Vriende van Kaapstad. Die Braai Master is Kyle Hodgson en die Braai Buddy is Rudy Gibbons.
  11. Die Berry Bright Food Fanatics-span: Ma en dogter van onderskeidelik Robertson en Ashton. Die Braai Master is Nicole Buirman en haar Braai Buddy is Suzanne Nel .
  12. Die Sumting Fresh-span: Vriende van Ennerdale in Gauteng. Die Braai Master is Andrew Leeuw en sy Braai Buddy is Nomthandazo Sithole.
  13. Die Braaight Brothers-span: Broers van Kaapstad. Die Braai Master is Tomas Cunnama en die Braai Buddy is Daniel Cunnama.
  14. Die Smoke, Sweat & Tears-span: Vriende van Vishoek. Die Braai Master is Chris Kastern en die Braai Buddy is Simon Good.
  15. Die Darkies Unleashed-span:  Vriende van Katlehong in Gauteng. Die Braai Master is Thabiso Motloung en die Braai Buddy is Motebejane Mofokeng.