TEEN 09:10 John Podesta, Clinton se veldtogbestuurder, het pas sy kandidaat se ondersteuners huis toe gestuur. "Ons het niks meer om vanaand te sê nie," het hy aan hulle gesê. Die mense gaan in trane huis toe.

TEEN 08:51

Donald Trump wen ook die staat van Pennsilvanië wat hom nog 20 kieserstemme besorg.

TEEN 08:40

Trump kort in hierdie stadium nog net ses kieserstemme om die volgende president van Amerika te word. Tans het Clinton 215 stemme terwyl Trump op 264 staan.

Die wenner benodig 270 kieserstemme.

Almal wag in spanning vir Pennsylvania se uitslag. Volgens CNN is dit nie seker waarom dié deelstaat nog nie hul uitslag bekend gemaak het nie.

TEEN 08:21

Trump loop voor in Arizona, Michigan, Pennsylvania en Wisconsin.

Clinton loop nou net-net voor in New Hampshire.

TEEN 07:28

Clinton het Nevada se ses kieserstemme gewen.

Clinton het tans 215 kieserstemme.

Trump het steeds 244.

TEEN 07:17

Trump loop ook voor in Wisconsin met 49% van die stemme wat al getel is, in sy guns. Hy loop ook met 'n kortkop voor in New Hampshire, wat vier kieserstemme het en in Michigan, wat 16 kieserstemme het.

Clinton het steeds 209 kieserstemme.

Trump het 244 kieserstemme.

Onthou, 270 kieserstemme is nodig vir 'n kandidaat om te wen. Dit beteken Trump het net 26 kieserstemme nodig om president van die VSA te word.

TEEN 07:02

By die hoofkwartiere van die Demokratiese party is Hillary Clinton se ondersteuners se gesigte strak. Jong vroue het begin huil terwyl hulle toekyk hoe Trump al meer kieserstemme inpalm.

Net voor 07:00 Woensdagoggend het Trump se kieserstemme op 244 gestaan.

Trump het ook Florida se 29 kieserstemme gewen.

Trump het in Utah, Ohio, Iowa, Georgia en Texas koning gekraai.

Clinton het Oregon, Hawaii en Kalifornië se kieserstemme gewen.

TEEN 06:30

Die Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump loop tot dusver voor met 228 kieserstemme uit die verskillende deelstate.

Hy is ook op die punt om die deelstaat Florida te domineer en die 29 kieserstemme in dié staat te werf.

Volgens CNN dui die uitslae ook aan dat Trump Iowa se ses kieserstemme gaan wen.

Die Demokratiese presidentskandidaat, Hillary Clinton, het volgens CNN teen 06:30 209 kieserstemme gehad.