Hy is dol oor alles wat byderwets is – van platskerm-TV’s tot die nuutste tegnofoefies.Sy gaan snuffel weer graag antieke versamelstukke uit, alles van outydse tafeltjies tot fotorame.

Nou probeer Wicus van der Merwe en sy vrou, René, maar ’n balans in hul huis vind, al beteken dit dat sy supermoderne platskerm-TV bo-op haar kas uit die ou dae beland.

Dis ‘‘ons eie ingeleefde styl’’, sê René oor die binneversiering van hul dubbelverdiepinghuis in die Toskaanse styl op Malmesbury. Hier wemel dit van die antieke versamelstukke – van oom Akkie Ackerman se tasse op die TV-kas en oupa Barnie Bouwer se verkyker op ’n antieke tafeltjie tot van paTolla se eerbewyse en ander onthougoed in die braaikamer.

’n Spul kiekies in outydse houtrame pronk saam met ’n doek met die bladmusiek van hul trouliedjie, Caruso, teen die muur. Dié het René geverf. ‘‘Sy is die eintlike kunstenaar en verf sommer self ons tafels. Ek is maar die braaier en gadgetou,’’ sê die Spietkop-sanger en loer gou of daar dalk intussen ’n boodskap op die iPhone in sy hand gekom het.

Maar al verskil hulle én hul smaak hemelsbreed, is die twee al 13 jaar lank dolgelukkig getroud. Nie dat hulle noodwendig oor die ‘‘ingeleefde’’ binneversiering saamstem nie.

‘‘Moet alles dan 300 jaar oud wees? En waar is my reuse Bruce Springsteenplakkaat wat ek nou die dag laat blok het?’’ wil Wicus (38) onthuts weet.

‘‘Ons buurvrou Stefi Roux het ’n antiekwarewinkeltjie langsaan met die mooiste goed,’’ praat René (37) daai geselsie dood. En 90 persent van haar klandisie sit net hier, beduie Wicus met sy kop na haar kant toe.

Wat koop sy nooit?

‘‘Sê asseblief kerse,’’ sê manlief.‘‘Want as sy nog een kers koop, het ons ’n klooster en sy steek hulle nooit aan nie.’’

‘‘Opgestopte diere,’’ antwoord sy asof sy hom nie hoor nie.

Lees meer in die Huisgenoot van 26 Mei. 

Volg Huisgenoot op Twitter.