Bobbi Kristina Brown is weer verloof aan Nick Gordon.

Bobbi Kristina (20) is die dogter van wyle Whitney Houston en Bobby Brown en Nick is na berig op 12 deur die legendariese sangeres aangeneem. Whitney het tot met haar dood in Februarie verlede jaar na hom verwys as “haar seun”.

Die tweetjies was voorheen al verloof, maar die verlowing is in November verlede jaar verbreek. Tot nou . . .

Woensdag het sy op Facebook haar mond uitgespoel: “Ja, ek en Nick is verloof. Ek is moeg daarvan dat mense sê: ‘Sies, jy is aan jou broer verloof.’ Of: ‘Sou julle saam gewees het as Whitney nog geleef het en sou sy die verhouding goedkeur?’

“Laat ek een ding duidelik maak: Ons is nie regtig broer en suster nie; hy is ook nie my aangenome broer nie. My ma het hom nooit aangeneem nie. Om die waarheid te sê, mamma was die een wat gesê het sy weet net ek en hy gaan bymekaar uitkom.

“My ma ken my beter as enigeen van julle. Baie van julle sê julle praat uit liefde met my hieroor, maar dis nonsens. As dit wel die geval was, sou julle net wou hê ek moet gelukkig wees.

“Mense moet regtig ophou om my verhouding te oordeel. Ek is redelik seker ek kan besluit by wie ek wil wees. Ja, my verhouding is dalk nie perfek nie. Ons gaan deur moeilike tye, nes enige ander paartjie. Jy stem dalk nie saam met my verhouding nie; jy respekteer dit dalk nie, maar oordeel my gerus. Jou opinie is joune en myne myne. Dis my lewe, nie joune nie. My besluite het niks met jou te doen nie. Nag.”

Die tonge het reeds vroeër vandeesmaand oor ’n moontlike troue begin klap toe Bobbi ’n foto van Nick op Instagram deel en hom haar “aantreklike verloofde” noem.