Die wyle I Will Always Love You-sangeres se dogter het die afgelope maand aangekondig dat sy in die geheim met haar verloofde afgehaak het, en sê nou haar ma, wat in 2012 per ongeluk verdrink het, het die verhouding goedgekeur, hoewel Nick as haar stiefbroer grootgemaak is.

Bobbi (20) het op die Amerikaanse TV-program Extra gesê: “Sy wou hê dit moes gebeur. Dis iets wat sy wou sien.” Nick het bygevoeg: “(Whitney) het my behandel asof sy die lewe aan my geskenk het. Sy het my soos haar seun behandel. Sy het my verskeie kere laat belowe dat ek na Krissy sou omsien . . . en Ma, ek sal nooit, ooit, ooit daardie belofte verbreek nie.”

Whitney het Nick, wat nou in sy 20’s is, destyds onder haar vlerk geneem toe sy ma nie meer vir hom kon sorg nie. Sy het hom nooit amptelik aangeneem nie en hy en Bobbi – haar pa is die sanger Bobby Brown – is nie bloedfamilie nie.

“Ek het Whitney ma genoem; daarom dink almal ons is broer en suster,” het Nick gesê.

“Ons was jonk. Krissy het my as ’n ouer broer beskou, en ek haar as ’n kleinsus.”

Die romanse het begin vlam vat ná Whitney se dood en die paartjie sê die negatiewe reaksie op hul verhouding het hulle net sterker gemaak.

Bobbi Kristina sê: “Dit het ’n vuur onder ons aangesteek en ons na mekaar toe aangetrek.” Nick het bygevoeg: “Die kritici kan sê wat hulle wil . . . dis asof ons ’n kragveld het en daardie *** net daarvan afbons.”