Die dogter van die sanger Bobby Brown (46) en die wyle musieklegende Whitney Houston was vir bykans ses maande in ’n koma voor haar dood. Volgens familielede is Bobbi Kristina op 26 Julie, omring deur familielede, by die Peachtree Christian Hospice in Duluth, George oorlede. “Sy het uiteindelik vrede in God se arms,” het die Houston-familie in ’n verklaring aan ET Online gesê. “Ons wil almal bedank vir hul ongelooflik liefde en ondersteuning in hierdie laaste paar maande.” Bobbi Kristina was net 22 jaar oud ten tyde van haar dood. Sy was bewusteloos en op lewensondersteuning sedert sy op 31 Januarie met haar kop na onder in ’n bad in haar huis naby Atlanta, Georgia gevind is. Sy is op 24 Junie na ’n tehuis vir siekes verskuif. Daar word nog gegis oor die omstandighede rondom die verdrinkingsvoorval wat Bobbi Kristina met onomkeerde breinskade gelaat het.
© Cover Media